
Ondanks die ongelooflike gehalte het die produksie van rooibostee rondom Wupperthal in die Sederberge oor die laaste paar jare meer as gehalveer.
Mnr. Johan Brand, tegniese bestuurder van Rooibos Bpk, skat dat produksie gedaal het van 180 ton droë rooibos per jaar in 2009 tot net 60 ton verlede jaar.
Daar is verskeie redes hiervoor: Mnr. Martin Goes, ‘n produsent van Eselbank net buite Wupperthal, vertel dat hy sedert 2010 produksie afgeskaal het van 25 ton nat rooibos tot 10 ton: “Pryse was so swak en insetkostes so hoog dat dit net nie meer die moeite werd vir my was om nuwe plantasies te vestig nie.”
Vervoerkoste is die groot probleem, volgens hom. “Ons area is baie geïsoleerd en dit is moeilik om die tee by markte uit te kry. Die pad na Wupperthal is ook so sleg dat dit vir my meer ekonomies is om tee aan vervaardigers rondom Citrusdal te verkoop as om my tee self te droog op ‘n teebaan op Wupperthal.”
Kansvatters ook betrokke?
Die gemeenskap het ook deurgeloop onder kansvatters. Mnr. Barend Salomo, besturende direkteur van Wupperthal Original Rooibos Koöp, voer aan dat hulle ’n groot terugslag beleef het toe ’n buitestander so twee jaar gelede sowat R500 000 se tee by boere gesteel het. “Die man het met allerhande beloftes van goeie pryse en markontwikkeling gekom. Die einde van die storie was dat ons ’n klomp geld verloor het en dat die teebaan wat deur die meeste boere in die gemeenskap gebruik was om tee te droog, gelikwideer is. Daar is ’n hofsaak teen die man aanhangig gemaak.”
Brand sê dat produksie rondom Wupperthal beter as verlede jaar lyk, aangesien meer produsente verlede jaar nuwe rooibosplantjies gevestig het. Rooibos Bpk skenk jaarliks plantjies aan produsente in dié gebied. Die aanbod is nou minder as die vraag, en pryse lyk beter as verlede jaar. Rooibos Bpk betaal tans 15% meer as verlede jaar teen R17/kg vir droë rooibos. Produsente deel ook in wins en winsdeling het verlede jaar op R2,70/kg droë rooibos gerealiseer.