Die mark vir groente in Suid Afrika ontwikkel in twee duidelik onderskeibare markte - die tradisionele mark vir Jan en alleman, wat die nasionale varsproduktemarkte en smousmark insluit, en die meer gesofistikeerde mark van die kettingwinkels en groentewinkels.
Mnr. Kobus van Heerden van MayFord se tegniese sentrum, sê kool, blomkool, broccoli en Brusselse spruite is in werklikheid koelweergewasse. Kultivars is egter ontwikkel wat méér hitteverdraagsaam is. Dit maak dit moontlik om dié gewasse feitlik regdeur die jaar te verbou.
Temperature onder vriespunt sal dié gewasse nie maklik benadeel nie. Broccoli is egter die gevoeligste vir koue, en 'n temperatuur laer as -2°C kan die kop se gehalte verswak. Koolgewasse sukkel by hoë temperature en daarom moet die boer 'n kultivar kies wat hitte goed verdra.
Swartwortelvrot in die somer is 'n ernstige probleem by koolgewasse. Kultivars wat weerstand daarteen het, moet verbou word.
Koolgewasse presteer die beste op grond wat goed dreineer en baie organiese materiaal het. Die grond moet 'n pH van 5,5 tot 7 hê, anders kan 'n tekort aan mikro-elemente voorkom. Dié tekort ontstaan weens die swak opneembaarheid van die mikro-elemente wanneer die pH nie aan die genoemde riglyn voldoen nie.
Om die voorkoms van siektes te vermy, moet koolgewasse verkieslik nie binne drie jaar op dieselfde land geplant word nie .
Weens die verskeidenheid grondsoorte is dit onmoontlik
om 'n aanbeveling vir bemesting te doen sonder om die grond te laat ontleed. Die boer kan wel die riglyne wat in tabel 1 verskaf word, in aanmerking neem.
TABEL 1: Riglyne vir die bemesting van koolgewasse (kg/ha) | |||||||
Soort koolgewas | Lae toediening | Hoë toediening | Tyd van toediening | ||||
N | P | K | N | P | K | ||
KOOL | |||||||
Basiese bemesting | 60 | 90 | 60 | 80 | 120 | 80 | Met planttyd |
Kopbemesting | 20 | 0 | 0 | 20 | 0 | 0 | 3 weke ná planttyd |
Kopbemesting | 20 | 0 | 0 | 20 | 0 | 0 | 8 weke ná planttyd |
BROCCOLI | |||||||
Basiese bemesting | 100 | 150 | 100 | 100 | 150 | 100 | Met planttyd |
Kopbemesting | 20 | 0 | 0 | 20 | 0 | 0 | 4 weke ná planttyd |
BLOMKOOL EN BRUSSELSE SPRUITE | |||||||
Basiese bemesting | 80 | 120 | 80 | 100 | 150 | 100 | Met planttyd |
Kopbemesting | 20 | 0 | 0 | 20 | 0 | 0 | 4 weke ná planttyd |
Die kopbemesting moet binne vier weke ná planttyd toegedien word. KAN, ammoniumnitraat of ureum kan gebruik word na gelang van die grondontleding se uitslag.
Dit is belangrik om op koolgewasse se behoefte aan mikro-elemente te let. Dié gewasse is veral gevoelig vir tekorte aan boor, molibdeen en yster. 'n Tekort aan van dié mikro-elemente kan die plante swak laat ontwikkel.
Die boer moet waak teen saailinge wat ouer as vier tot vyf weke is, want hulle raak te groot en ontwikkel moeilik nadat hulle uitgeplant is. Ou saailinge bring dwergplante voort wat nooit goed presteer nie. Die saailinge moet versigtig gehanteer word en die wortels moenie beskadig word nie. Saailinge moet liewer op 'n koel, bewolkte dag geplant word. As dit nie moontlik is nie, moet hulle in die laat namiddag geplant word. Tabel 2 verskaf riglyne oor die gewenste plantestand en spasiëring van koolgewasse. Mnr. Van Heerden sê saadtellings verskil van saadlot tot saadlot en is slegs 'n riglyn. Vir die korrekte saadtelling moet die boer kyk na die reekstoets, wat saam met elke saadlot deur Mayford verskaf word.
TABEL 2: Riglyne vir plantestand en spasiëring van koolgewasse vir 'n opbrengs van 15 t/ha tot 30 t/ha | |||
Soort gewas | Plantdigtheid | ||
Tussen rye | Tussen plante | Plante/ha | |
Kool | 900 mm | 500 mm | 28 000 - 45 000 |
Babakool | 100 mm | 100 mm | 45 000 - 125 000 |
Broccoli | 900 mm | 500 mm | 25 000 - 35 000 |
Brusselse spruite | 900 mm | 400 mm | 20 000 - 35 000 |
Blomkool | 900 mm | 600 mm | 20 000 - 35 000 |
Tydens die plant se ontwikkeling gaan dit deur verskeie stadiums waarin dit genoeg water moet kry om ten volle te produseer. Met die vestiging van die saailinge moet die grond tot op 'n diepte van sowat 400 mm versadig wees. Dit sal die plante aan die begin prikkel om sterk te groei en goeie wortels te ontwikkel. Die plante moet ook genoeg water tydens die kop- of blomvormingstadium kry.
Tabel 3
bevat riglyne vir temperature en humiditeit vir die opberging en vervoer van koolgewasse.
TABEL 3: Temperatuur- en humiditeitsriglyne (RH) vir die opberging en vervoer van koolgewasse | |||
Gewas | Opberg- en vervoer- temperatuur | Opberging en vervoer (RH) | Verwagte raklewe in optimale bergtoestande |
Broccoli | 0°C | 90 % - 95 % | 1 - 2 weke |
Brusselse spruite | 0°C | 90 % - 95 % | 3 - 5 weke |
Kool | 0°C | 90 % - 95 % | 3 - 5 weke |
Blomkool | 0°C | 90 % - 95 % | 2 - 4 weke |
Slaai | 0°C-2°C | 95 % | 2 weke |
Deur hierdie riglyne te volg, sal die boer koolgewasse van goeie gehalte kweek en goeie pryse op die mark behaal.
Oes en hantering
Wanneer die eerste tekens van geel kraletjies voorkom, is broccoli-koppe nie meer bemarkbaar nie. By temperature hoër as 25°C vorm die blomknoppe baie vinnig. In dié toestande sal die koppe vir 'n beperkte tyd van goeie gehalte wees en die boer sal elke twee tot drie dae moet oes. As dit koel is, hoef hy net elke vier tot vyf dae te oes.
Wanneer koppe gesny word, moet 140 mm tot 200 mm van die stam behou word. Nadat die hoofblom gesny is, sal sylote ontwikkel. In optimale groeitoestande kan dit ekonomies wees om die sylote te oes.
Broccoli raak gou bederf en moet so gou moontlik nadat dit gesny is, bemark word. Nadat dit geoes is, moet die blomknoppe dadelik in 'n koel plek geberg word.
Broccolini se stam word geoes, aangesien broccoli se voedingswaarde glo in die stam is. Dit is waarskynlik die broccoli van die toekoms.
Brusselse spruite moet geoes word sodra dit 'n bemarkbare grootte van 25 mm tot 40 mm bereik en ferm genoeg is. Basterkultivars se hele drag word op dieselfde tyd oesgereed en kan eenmalig geoes word. Goeie spruite is heldergroen en ferm. Sagte en gekleurde spruite is nie geskik vir bemarking nie. Nes broccoli, bederf Brusselse spruite maklik en moet dit so gou moontlik nadat dit geoes is, bemark word.
Blomkool word geoes sodra die koppe 'n volwasse grootte bereik - gewoonlik 150 mm tot 250 mm in deursnee. Die blomknoppe moet ferm wees en nog nie begin verkleur nie. In dié stadium is die blare nog gesond en groen. Nadat die plant gesny is, moet al die blare wat nie die blomknop beskerm nie, verwyder word.
Goeie blomkool is roomwit en het 'n blomknop met 'n gladde tekstuur. Dié gehalte kan slegs verkry word deur kultivars te plant met blare wat die blomknop teen regstreekse sonlig beskerm.
Die beste tyd om blomkool te oes, is vroeg soggens, terwyl die koppe nog koel is. Ook in dié geval moet die kool so gou moontlik nadat dit geoes is, bemark word.
31 Mei 2002