Hoewel die koste-knyptang sy wurggreep jaarliks op vrugteprodusente verstewig en die insetkoste die afgelope 12 maande met minstens 35% gevuurpyl het, sal sagtevrugtepryse met net sowat 20% in die komende seisoen styg.
Mnr. Wiehahn Victor, hoofbestuurder van die Inmaakvrugte-produsentevereniging (IPV), het voor hy na die Voedselskou in Frankryk vertrek het om kontrakte met internasionale kopers te beding, gesê sagtevrugteprodusente "behoort darem in die komende seisoen 20% meer vir hul vrugte te kry". Volgens hom speel die gunstige wisselkoers vir uitvoere 'n rol.
"Die produksiekoste bekommer ons egter. Dit raak nie net vir ons (produsente) nie, maar ook die verwerker. Hoewel arbeid nie vir ons die grootste enkele probleem is nie, is elektrisiteit- en blikkoste taamlik op. Ons maak die sommetjie dat produksiekoste gemiddeld 35% per plaas op is."
Hy het vrugteprodusente op die Overberg Vrugte en Wyn Ekspo op Villiersdorp toegespreek. Mnr. Jacques du Preez van die Sagtevrugte-produsentetrust het by dieselfde geleentheid gewaarsku ou appel- en peerboorde hou straks 'n krisis vir die bedryf in.
21 Oktober 2008