Dié
kromnekvirus en sy gasheer, die blaaspootjie, kan boere baie geld kos. Chemiese bestryding alleen is nie doeltreffend genoeg nie.
Die kromnekvirus is in 1993 op 'n virologiekongres in Glasgow uitgewys as een van die ekonomiese belangrikste virusse wat tans voorkom. Dit het al op verskeie kontinente verwoesting gesaai; vanaf Asië, deur die Amerikas, in Europa en ook in Afrika.
Dié virus is 'n
algemene plaag onder gewasse van die Solanaceae
-plantfamilie (tamaties, soet- en warm rissies, paprika, eiervrugte en aartappels) in tropiese en subtropiese gebiede, maar kan ook in gematigde klimaatstreke voorkom.
Hierdie gewasse, asook onkruide, seldery, slaai, papaja, pynappel en ornamentele plante (soos afrikanertjies, jakobregop, krisante, dahlias en rooigousblom) is almal belangrike reservoirs vir die kromnekvirus, sê mnr. Kobus van Heerden, produkbestuurder van MayFord.
By rissies en paprika is skielike vergeling en verbruining asook bleeksugtige (chlorotiese) ringe op blare die kenmerkende simptome van besmetting met die kromnekvirus. Afsterwing van jong lote en algemene verdwerging van plante kom ook voor.
Vrugte kry bleeksugtige vlekke, groen of rooi areas omring deur geel ringe, groot dooie kolle en soms konsentriese ringe. Vrugvervorming kom ook soms voor. Die afsterwe van ontwikkelende blomme is algemeen. Buiten die nadelige kosmetiese uitwerking van die virus, word die opbrengs van 'n gewas uiteindelik benadeel.
Die virus versprei hoofsaaklik saam met sy gasheer, die blaaspootjie, en ook besmette plantmateriaal. Die virus word nie as 'n saadgedraagde virus beskou nie omdat dit baie onstabiel is en net vir twee tot vyf uur in plantsap-ekstrak by kamertemperatuur kan oorleef. Daarom het dit 'n gasheer nodig om suksesvol te versprei.
Die kromnekvirus kan deur enige van minstens
sewe blaaspootjiespesies oorgedra word. àl sewe spesies kom nie noodwendig oral
in die wêreld voor nie, maar daar is minstens een spesie in enige land. Die
spesies is
Thrips tabaci, T. setosus, Frankliniela schultzei, F. occidentalis, F. fusca, F. intonsa en Scirtothrips dorsalis.
Die primêre gasheer was eers Thrips tabaci,
maar nou word Frankliniela occidentalis as die doeltreffendste gasheer
beskou. Albei kom in Suid-Afrika voor, asook F. schultzei en
Scirtothrips dorsalis
.
Mnr. Van Heerden sê net die eerste- stadium-larwe kan met die virus besmet word as dit plantsap inneem. Eers ná 'n inkubasietydperk van vier tot tien dae (nadat die virus ingeneem is) kan die virus deur die blaaspootjielarwe of volwassene oorgedra word. Temperatuur beïnvloed die blaaspootjie se tempo van ontwikkeling. By lae temperature tree die tweede- stadium-larwe as gasheer op, terwyl die volwassene onder hoë temperature die gasheer is.
As die blaaspootjie met die virus besmet is, is dit vir sy hele lewensiklus besmet en in staat om die virus oor te dra. Die virus kan egter nie van een geslag na 'n daaropvolgende geslag oorgedra word nie. Elke individuele blaaspootjie moet die virus self bekom om as gasheer te kan optree.
Tydens die inkubasietydperk vermeerder die virus in die blaaspootjie en sirkuleer in die gasheer se liggaam. Nadat die virus die speekselkliere van die blaaspootjie bereik het, kan dit tydens voeding oorgedra word.
Die blaaspootjiewyfie lê eiers in die plantweefsel en die eiers broei ná drie tot 12 dae uit. Die eerste- en tweede- stadium-larwes is die aktiewe voedingstadia in die blaaspootjie se lewensiklus. Die larwes bly op die gasheerplant en ná 14 dae (of minder) word die larwes papies.
Daar is twee papiestadiums waartydens hulle gewoonlik nie op die plant teer nie en so te sê niks beweeg nie. Die puperingstydperk kan op die gasheerplant of in die grond plaasvind en duur nege dae (of minder), waarna die blaaspootjie as 'n volwassene vir 10 tot 30 dae voortbestaan.
Die larwe- en volwasse stadium kan langer duur, aangesien die aanbreek van die winter diapuase veroorsaak. Diapause is die proses waartydens die metaboliese prosesse in sommige insekte afneem en minder energie verbruik word sodat die insek moeilike tydperke soos winter kan oorleef. Blaaspootjies oorwinter as larwes in die grond, of as volwassenes tussen dooie plantmateriaal, of in boombas.
Wye
gasheerreeks bemoeilik bestryding
Die bestryding van blaaspootjies en die kromnekvirus word bemoeilik deur die wye gasheerreeks wat besmet word. Chemiese bestryding alleen is nie suksesvol nie, aangesien die insekte baie klein (0,5 mm tot 15 mm) is en 'n paar blaaspootjies 'n hele aanplanting met die kromnekvirus kan besmet, sê mnr. Kobus van Heerden.
Blaaspootjies moet in groot getalle teenwoordig wees voordat dit opgemerk word. Wat dinge verder bemoeilik, is dat die graad van besmetting in 'n aanplanting van dieselfde gewas kan wissel, hoofsaaklik weens verskille in die grond se waterhouvermoë. Dit beïnvloed die papies se oorlewing in die grond.
Omdat blaaspootjies so klein is, is daar baie plekke waar hulle op 'n plant kan skuil om chemiese bestryding te ontwyk. Weerstand teen verskeie chemiese middels kom ook al oral in die wêreld voor. 'n Goeie bestrydingprogram met chemiese middels is nodig om weerstand te voorkom.
Die gebruik van gekleurde blomme hou ook gevare in, aangesien dit as 'n alternatiewe bron (gasheer) van blaaspootjies en die virus kan dien.
Geïntegreerde plaagbestryding behels eerstens dat die boer kultivars moet plant wat teen die virus weerstand bied, saam met korrekte bemesting en 'n "sagte" (omgewingsvriendelike) chemiese bestrydingprogram wat weerstand voorkom.
Weerstand hoef nie noodwendig tot weerstand teen die virus beperk te word nie aangesien blaaspootjies deur 'n verskeidenheid fisieke planteienskappe in toom gehou kan word, soos harigheid, wat voeding en die lê van eiers moeilik maak. Korrekte bemesting speel 'n groot rol omdat 'n gesonde plant minder kwesbaar vir insekaanvalle en siektes is.
Mnr. Van Heerden sê 'n voorkomende chemiese bestrydingsprogram is doeltreffender as 'n korrektiewe program omdat dit voorkom dat blaaspootjiegetalle toeneem en die risiko vir virus-oordraging verlaag. "Sagte" chemiese middels bevorder ook biologiese bestryding.
Chemiese middels moet gereeld afgewissel word om weerstand te voorkom. Afwisseling moenie op middels met verskillende handelsname gebaseer word nie, maar op middels met verskillende aktiewe bestanddele.
Gekleurde kleefpapier (veral oranje) kan gebruik word om volwasse blaaspootjies te lok. Die kleefpapier word vervang soos wat dit vol raak. Insekwerende nette met gaatjies wat kleiner as 1,6 mm is, eerder as gewone skadunet, sal die stryd teen die virus en blaaspootjies doeltreffender maak.
Plante wat met die virus besmet is, moet gereeld verwyder word om die besmettingsbron te verminder. Die verwydering van onkruid tussen plante en in die omgewing van aanplantings is noodsaaklik, asook die voortdurende verwydering van plantreste.
18 Oktober
2002