PG Slabbert, hoof van Stellenbosch Hills, lig vanjaar sy glas op ’n kwarteeu by dié kelder, wat sy oorsprong het in die Vlottenburg-kelder, gestig deur boere wat wou saamwerk om hul eie toekoms uit te kerf ná die Tweede Wêreldoorlog.
“Dit voel nie asof 25 jaar verby is nie. Ek leer nog elke dag en geniet my werk,” sê PG, wat sy klein span as familie beskou. Die kelder kry sy druiwe van 16 boere wat by Stellenbosch boer. In PG, ’n boorling van Upington, se tyd het die kelder meer klem op sy handelsmerk begin lê en van grootmaatwynproduksie na gebottelde wyne geskuif.
Sy verouderingskelder het ook van 50 vate na meer as 800 gegroei. Van die hoogtepunte in PG se 25 jaar by Stellenbosch Hills sluit in die 1997-oesjaarwyn, wat ’n plek in die Absa Top10- Pinotage-kompetisie (1998) losgeslaan het, asook die Sauvignon Blanc 2007 wat die Grand d’Or op die Michelangelo- internasionale wynskou as die beste algehele witwyn gewen het.