
KWV is vanjaar se onbetwiste Veritas-koning. Hierdie byna eeu-oue wyn- en brandewyn maatskappy met sy hoofsetel in die Paarl, het gisteraand (Saterdag 8 Oktober) ‘n asemrowende vyf dubbelgoud en nege goue medaljes verower tydens die 2011 Veritas-toekenningsgala – die meeste dubbelgoud en goud medaljes wat ooit deur een kelder ingepalm is.
Die geleentheid het plaasgevind by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (KIKS) en is geborg deur Agri-Expo.
Hoewel geen ander kelder as ’t ware in hul nek kon blaas nie, sluit die top-presteerderlys met betrekking tot dubbelgoud en goud medaljes die volgende kelders in: Boplaas Familie Wingerde (3 dubbelgoud, 1 goud), Nederburg Wyne (2 dubbelgoud, 9 goud), Nuy Wynkelder (2 dubbelgoud, 7 goud), Distell Brandewyn (2 dubbelgoud, 6 goud), Bon Courage en Spier elk 2 dubbelgoud en 5 goud, Flagstone (2 dubbelgoud, 2 goud) en Kanonkop Wynlandgoed (2 dubbelgoud, 1 goud). Delaire Graff Landgoed is ook met twee dubbelgoud medaljes beloon.
Uit ‘n totaal van 1 739 inskrywings is vanjaar 42 (2,41%) dubbelgoud, 158 (9,08%) goud, 609 (35,0%) silwer en 619 (35,6%) brons medaljes toegeken.
Wees op die uitkyk vir hierdie topwyne
Meer as die helfte van die dubbelgoud medaljes is vanjaar in die hande van die tien top presteerders by Veritas. Dubbelgoud medaljes pryk eersdaags op KWV se The Mentors Sauvignon Blanc 2009, die 2009 The Mentors Petit Verdot, sowel as hul Cape Classic Tawny Port en ‘n uitsonderlike 1930 Muskadel LBV. ‘n Dubbelgoud vir hul 15-jaar potketel brandewyn bevestig dat KWV op wyn- én brandewyngebied ook ‘n leier is.
Boplaas Familie Wingerde, Suid-Afrika se uithaler port-meester, staan vanjaar tweede in die dubbelgoud-ry met drie van hierdie gesogte medaljes vir hul Cape Tawny Port, die 2009 Cape Vintage Port, asook ‘n 1997 Tawny Port Reserve.
Nederburg het vanjaar twee dubbelgoud medaljes verdien met ‘n 2003 Private Bin Edelkeur Noble Late Harvest en ‘n 2010 Private Bin Eminence natuurlike soetwyn.
Nuy Wynkelder se dubbelgoud duo is toegeken aan ‘n 2007 Nuy Wit Muskadel en ‘n 1989 Rooi Muskadel.
Brandewyn in kollig
Twee van Distell se premium brandewynhandelsmerke wat die beoordelaars se guns gewen en gevolglik met dubbelgoud beloon is, is Flight of the Fish Eagle en Van Ryn’s 12-jaar oud Distillers Reserve.
Bon Courage spog met twee dubbelgoud medaljes vir hul 2006 Blanc de Blanc Jacques Bruére en ‘n 2011 Rooi Muskadel.
Spier, verlede jaar se medalje-voorloper, het twee dubbelgoue medaljes in die sak: die 2010 Woolworths Classic Chenin Blanc en die Woolworths The Hutton Cabertnet Sauvignon van die 2008-oesjaar.
Flagstone se twee dubbelgoud medaljes is toegeken aan hul Music Room Cabernet Sauvignon en die Writer's Block Pinotage, beide van die 2009-oesjaar.
Twee dubbelgoud medaljes is toegeken aan Kanonkop vir hul 2006 en 2008 Pinotage.
Delaire Graff Landgoed het hul twee dubbelgoud medaljes verdien vir die 2009 Cape Vintage Port en die 2010 Chenin Blanc.
Internasionale beoordelaars
Altesaam 1 739 inskrywings het aangetree om geproe te word deur die meer as 100 plaaslike beoordelaars, tesame met nege internasionale wyn- en brandewynkenners.
Die swaargewig internasionale span beoordelaars het die volgende persone ingesluit: die eerste Suid-Afrikaanse voorsitter van die internasionale Institute of Masters of Wine, Lynne Sherriff (Engeland); Christine Austin (Engeland), ‘n bekende wynskrywer en paneelvoorsitter by die International Wine Challenge in Londen; Johan Larsson (Swede) hoofwynaankoper van Suid-Afrikaanse wyne vir die Sweedse wynhandelsmonopolie, Systembolaget; en John en Nellie Salvi (Frankryk). John, MW, is ‘n wingerdboukundige, wynskrywer en wynmaker, terwyl sy vrou Nellie ‘n wynskrywer is wat ‘n maatskappy besit wat wyntoere en tegniese simposiums organiseer.
Saam met hulle was Thomas Lüber (Duitsland), hoofaankoper van Suid-Afrikaanse wyne vir WIV Wein International AG; Australië-gebore Richard Rowe, tans hoofwynmaker by KWV, sowel as die Franse brandewynkenner Denis Lahouratate, en Dave Hughes, ons eie wyn- en brandewynkundige en internasionaal erkende beoordelaar.
* Die volledige uitslae is aanlyn beskikbaar by www.veritas.co.za.
9 Oktober 2011