
Distell het in 10 maande altesaam 333 ton glas gespaar deur 2,9 miljoen wynbottels van ? ligter gewig te gebruik, sê mnr. Jacques Rossouw, die maatskappy se omgewingsbestuurder.
Dié besparing is gelyk aan 733 ton koolstof, wat andersins in die atmosfeer vrygestel gewees het, en beklemtoon die maatskappy se deurlopende pogings om ’n kleiner koolstof-voetspoor te skep. Dié program het in 2008 op dreef gekom toe ’n projek van stapel laat loop is om koolstof wat met die gisting van sy appelsiders vrygestel word, op te vang, te suiwer en dan weer te gebruik.
“Vandat ons in die geval van verskeie van ons wyne van 750ml bottels met ’n gemiddelde gewig van 570g vervang het met bottels van 455g, het ons die maatskappy se koolstofvrystellings reeds beduidend verminder,” sê Rossouw in ‘n nuusverklaring. “Dis maar net ’n begin. In die volgende paar maande gaan ons bottels van 350g bekend stel en nóg meer spaar.”
Hy sê Distell werk ten nouste saam met Brittanje se Waste & Resources Action Programme wat daarop gemik is om die gebruik van glas te verminder. Hy werk ook met plaaslike bottelvervaardigers saam om geskikte en volkome veilige ligte verpakkings te ontwikkel. Volgens hom het Distell as deel van sy betrokkenheid by volhoubare wynproduksie ’n sleutelrol in die ontwikkeling van die nuwe bottel van 350g gespeel.
Volgens me. Carina Gous, die hoof van wynbemarking by Distell, sal die nuwe liggewig-bottel van 350g vir sekere maatskappy-handelsmerke gebruik word asook vir sommige internasionale kopers se eie handelsmerke wat deur Distell gemaak word.
19 Mei 2010