
Toe me. Nonhlanhla (Nonny) Mokoena-Chimhandamba en mnr. Simbarashe (Simba) Chimhandamba die Urban Grown-varsproduktemaatskappy in 2015 begin het, was hulle verbaas oor die hoeveelheid voedsel wat vermors word ondanks die nabyheid van plase aan stede.
Die maatskappy het aanvanklik gekonsentreer op die gasvryheidsbedryf en landbouverwerking. Nonny was egter geskok oor die syfers rondom voedselvermorsing. Die maatskappy se klem het toe verander na die verskaffing van vrugte en groente in Gauteng se stedelike gebiede ten einde voedselvermorsing te beperk.
Nonny se ervaring in die sakewêreld tesame met Simba se kennis van die landbou en bemarking het hulle ’n unieke benadering tot die probleem gegee. Hulle het begin deur vars produkte aan hotelgroepe te verskaf, maar het vinnig begin om ander afsetpunte by te voeg.
Vandag lewer die maatskappy vars produkte, onder meer spinasie, murgpampoentjies en kruie, aan kleinhandelaars en die gasvryheidsbedryf. Hulle besit hul eie waardeketting.
In Februarie vanjaar het Urban Grown ná drie jaar se onderhandelinge ’n kontrak met die Shoprite-groep beklink – ’n kontrak wat Simba as van onskatbare waarde beskou.
“Ons het aanhou klop aan die deur!” sê Simba. “Terugskouend het daardie drie jaar ons in staat gestel om met ander kleinhandelaars en kliënte in die gasvryheidsbedryf te oefen en ons aanlegte vir voedselveiligheid en internasionale beste praktyke te laat akkrediteer.”
Die egpaar het Shoprite op hoogte gehou van elke verbetering totdat dié kleinhandelaar ’n kontrak met Urban Grown gesluit het vir die lewering van vars produkte aan Freshmark, die groep se afdeling vir die aankoop en verspreiding van vars produkte.
“Vandag verskaf ons heel, asook waardetoegevoegde produkte aan Freshmark. Die toevoeging van handelsmerke soos Massfresh tot Freshmark bied tans vir ons ’n nuwe benadering en nuwe mark,” vertel Simba.
Nonny is die eienaar en besturende direkteur van Urban Grown met Simba as bedryfsdirekteur. Die maatskappy neem 35 mense in diens, meestal jong vroue, en probeer ook om ’n nuwe generasie opkomende boere in Diepsloot en Hammanskraal te bemagtig.
“Ons beskou onsself as bewaarders van swart boere se reputasie,” sê Simba. “Pleks van huil oor die swaarkry en ongelykheid in die landbou, gryp ons kliënte soos Shoprite, wat vir ons ’n geleentheid gegee het, aan. Ons glo dat wat ek en Nonny gebou het, is ’n getuigskrif van ’n Suid-Afrikaanse suksesverhaal wat deur die Shoprite-groep moontlik gemaak is.”