
Navorsing deur die Tim Noakes-stigting het onlangs aangedui makadamia-olie hou beduidende gesondheidsvoordele in, selfs meer as olyf- en klapperolie. Die studie wat oor agt weke gedoen is, het die uitwerking van die aanvullende gebruik van 45 ml makadamia-olie per dag op 60 deelnemers getoets.
Hoewel dit algemeen bekend is dat makadamianeute ryk is aan mono-onversadigde vette soos palmitoleïensuur (omega 7) en oliesuur (omega 9) wat inflammasie teenwerk en hartgesondheid bevorder deur lipoproteïen (LDL)– vlakke te verlaag om algemene gesondheid te bevorder, is die aanvullende gebruik van makadamia-olie se voor- en nadele nog nooit bepaal nie.
Die studie wat gesondheidsmerkers in deelnemers se bloedmonsters gemonitor het, het gewys dat lipase-ensieme en C-reaktiewe proteïene verlaag is in die toetsgroep wat makadamia-olie aanvullend gebruik het. Laer vlakke van albei dra by tot ’n gesonder pankreas en verlaag inflammasie in die liggaam.
Klapperolie het ook laer lipase-vlakke meegebring, maar nie tot dieselfde mate as makadamia-olie nie. Interessant genoeg het deelnemers wat ’n standaarddieet volg meer voordeel uit die aanvullende gebruik van makadamia-olie geput as deelnemers wat ’n dieet met min koolhidraat en baie vet volg, maar hierdie groep het meer voordeel uit die klapperolie.