
Dit lyk of Suid-Afrika vanjaar aansienlik meer makadamianeute gaan oes as die vorige twee jare. Samac, die plaaslike makadamia-bedryfsorganisasie, se nuutste oesskatting is 61 288 ton. Verlede jaar het Suid-Afrika 53 320 ton ongedopte droë makadamianeute geoes.
Die logistieke probleme rondom skeepsvrag wêreldwyd bekommer makadamiakwekers. Die voortdurende inperkings wat die Chinese regering toepas in sy strewe om covid-19 heeltemal uit te roei in dié land, die ontwrigtende impak van die oorlog in Oekraïne en die verval van Suid-Afrikaanse hawens saam met die onlangse vloedskade by die Durbanhawe het lang vertragings in die verskeping van makadamianeute te weeg gebring.
Hoewel neute ’n baie langer rakleeftyd as vrugte het, voel makadamiakwekers die impak van die logistieke vertragings aan hul sakke.
200 dae
Dit het altyd 32 dae geduur om ’n besending makadamias van Suid-Afrika na China te verskeep. Deesdae duur dit 107 dae, sê me. Lizel Pretorius, uitvoerende hoof van Samac. Verlede jaar, toe dit reeds stadiger as normaalweg gegaan het, het dit op die langste 120 dae geduur om ’n besending na Amerika te stuur, vanjaar duur dit meer as 200 dae.
Pretorius sê die grootste oponthoud is by hawens waar skepe weke kan lê en wag vir ’n beurt om vas te meer sodat dit afgelaai kan word. Dit vertraag ook die sirkulasie van vraghouers, wat weer aan die oplaaikant probleme veroorsaak. Produkte kan dikwels nie verskeep word nie omdat daar nie vraghouers beskikbaar is nie, want daar is nie kapasiteit om skepe vinniger af te laai en leë houers beskikbaar te maak nie.
Sulke lang vertragings het ’n groot impak op die kontantvloei van makadamiaverwerkers en -boere, sê mnr. Pierre Cronjé, voorsitter van Samac.
Kontantvloeiknyptang
Cronjé, wat nou betrokke is by een van Suid-Afrika se groot makadamiaverwerkingsmaatskappye, maar ook met makadamianeute boer, sê veral die verwerkers bevind hulself nou in ’n kontantvloeiknyptang. Boere moet betyds betaal word vir die neute wat hulle lewer, sodat hulle voorbereiding vir die volgende seisoen se oes kan doen, terwyl oorsese kliente eers betaal wanneer hulle hul neute ontvang. “Ons geld dryf dus op die see rond en ons hande is vasgebind.”
Cronjé het tydens ’n onlangse vergadering met verskeie banke se landbou-afdelingshoofde gewaarsku dat makadamiakwekers en -verwerkers binnekort by hulle gaan aanklop vir oorbruggingsfinansiering.
Hy sê dit was by die onlangse konferensie van die internasionale neutraad (INC) duidelik dat dit nie net makadamias is wat onder die wêreld se logistieke probleme deurloop nie. Dieselfde probleme staar ander neutbedrywe in die gesig, maar met baie groter volumes. Makadamias verteenwoordig maar 1% van die wêreld se neutmark. Okkerneute is die grootste neutbedryf op aarde.
Op ’n konferensie in Doebai het kwekers van alle neutgewasse gehoor dat 12% van die wêreld se skeepsvloot in hawens vashaak. Cronjé voorsien dat die plaaslike bedryf se geld stadiger gaan vloei vir solank as wat dit China gaan kos om sy covid-19-beleid te wysig sodat sy in- en uitvoerketting weer optimaal kan funksioneer. Sowat 45% van Suid-Afrika se makadamias gaan na China.