
’n Nuwe makadamianeutdroog- en verwerkingsfasiliteit naby Nelspruit in Mpumalanga fnuik Eskom se stygende elektisiteitstariewe deur weldeurdagte planne en moderne tegnologie saam in te span.
Mnr. Alan Sutton, die voorsitter van die Valley Macadamia-groep van Kiepersol in Mpumalanga sê verhoogde doeltreffendheid regdeur die waardeketting is die sleutelfaktor om stygende kostes aan bande te lê en sodoende die winsgewendheid van produksiestelsels te verseker.
Sutton het tydens die opening van die groep se nuwe droog- en verwerkingeenheid by Alkmaar naby Nelspruit gesê danksy energiebesparende maatreëls is die fasiliteit 15% minder afhanklik van Eskom se elektrisiteitslewering.
Die makadamianeute word ná oes in die droogeenhede teen ’n gemiddelde temperatuur van 40 grade Celcius gedroog wat tot soveel as 25% tot die verwerkingsaanleg se energierekening bydra.
Die nuwe Alkmaar Valley Makadamiafabriek roem hom daarop dat dit die energiedoeltreffendste verwerkingseenheid in Suid-Afrika is, want dit het onder meer 50 000 bousteen-batterye wat hitte-energie kan opberg om dit in ’n later stadium, soos nodig, te sirkuleer. Die dak bokant die droogeenheid is swart geverf en die son verhit die lug onder die dak tot soveel as 70 grade Celcius. Hierdie warm lug word dan met die hulp van waaiers gebruik om die neute te droog óf die hitte-energie word in die bousteen-batterye vir latere gebruik opgeberg, sê Sutton.
Hou verwerkingskoste laag
Mnr. Roelof van Rooyen, die besturende direkteur van Alkmaar Valley Macadamias, sê deur die jongste energie-tegnologie in te span, hou die maatskappy die verwerkingskoste laag om produsente se wins te verhoog. “Dit is maar net één van die maniere waarop ons streef om ons produsente se sukses te verseker,” het Van Rooyen gesê.
Die Alkmaar Valley Macadamias se nuwe fabriek het ’n verwerkingsvermoë van 6 000 t. Met twee stortkaste van onderskeidelik 10 t en 5 t kan 150 kg neute per minuut "geskuif" word, wat ’n beter deurset is as dié van die meeste mededingers.
Byskrif: Van links is mnre. Philip van Rooyen, 'n direkteur van Alkmaar Valley Macadamias, Alan Sutton, voorsitter van die Valley Macadamias-groep, en Roelof van Rooyen, die besturende direkteur van Alkmaar Valley Macadamias tydens die opening van die nuwe makadamianeutdroog- en verwerkingsfasiliteit. Foto: VERSKAF