
Makadamias SA (Samac) het onlangs sy eerste slypskool gehou nadat die organisasie in Januarie ’n misdaadondersteuningsafdeling gevestig het om die hoë vlakke van neutdiefstal aan te pak.
Uit frustrasie met ’n oënskynlike laksheid onder owerhede om mense wat makadamiakwekers se neute in tonnemaat steel, aan te keer en te vervolg, het Samac verlede jaar by adv. Gerrie Nel van AfriForum se private vervolgingseenheid om hulp aangeklop.
Nel het op Samac se makadamiadag in November verlede jaar gesê dis ’n skande dat daar sedert 2020 geen inhegtenisnemings was nie ten spyte van die data en inligting wat Samac aan die Valke beskikbaar gemaak het. Die instelling het selfs die nodige toerusting en infrastruktuur vir die ondersoekeenheid gefinansier in die hoop dat dit tot vervolgings sou lei.
Van maande se briewe en besprekings tussen Samac en die wetstoepassers het daar dadels gekom.
“Al wat hulle vir hul moeite gekry het, was die gewone ou verskonings: ‘Die ondersoekbeampte het bedank,’ ‘Ons verwag om binnekort inhegtenisnemings te maak,’ ‘Die inligting rondom die ondersoek is te gevoelig om te deel’ en so hou dit aan sonder resultate.”
Nie onmoontlik
Nel ontken nie dat hierdie sake ingewikkeld is en vervolgings moeilik is nie, maar hy het daarop gewys dat dit nie onmoontlik is nie. Daar is geen ander bronne van makadamianeute as dit wat kwekers produseer nie. Diewe kan dit dus net by kwekers steel en hulle kan dit net aan verwerkers verkoop. Die sleutel lê volgens Nel daarin om inligting met mekaar uit te ruil sodat ’n duidelike prentjie gevorm word van waar gesteelde neute opduik.
Daar was ’n sterk afvaardiging uit Nel se kantoor op die onlangse slypskool op Nelspruit. Sy kantoor beskik nie net oor regsgeleerdes nie, maar ook oor speurders wat met die ondersoeke kan help om suksesvolle vervolging te verseker.
As die grootste produsent van makadamias ter wêreld vervul die plaaslike makadamiabedryf ’n belangrike rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie met neutuitvoer van omtrent R5,1 miljard per jaar. Makadamiadiefstal het egter die afgelope tien jaar skerp toegeneem. Vir 2021 word verliese as gevolg van diefstal op R370 miljoen beraam.
Kommunikasie noodsaaklik
Op die slypskool is Samac-lede aangemoedig om voortaan hul SAPD-saaknommers vir diefstalklagte saam met afskrifte van alle ondersteunende dokumente en bewyse aan die misdaadondersteuningsafdeling te verskaf. Kundiges sal die vordering met ondersoeke by die polisie en vervolgingsgesag monitor en intree waar ’n onnodige oponthoud opgemerk word.
Die afdeling sal met senior belanghebbendes in die staat en private sektor skakel om netwerkgeleenthede te bewerkstellig wat tot beter bewustheid van makadamiadiefstal sal lei. ’n Statistiese databasis sal ontwikkel word om neigings in verskeie areas te monitor en te rapporteer.
Daar is duidelike getuienis wat dui op die betrokkenheid van sindikate in die aankoop, verwerking en verspreiding van gesteelde makadamianeute, sê Samac luidens ’n verklaring.
“Gesteelde makadamias word teen ’n derde van die markwaarde aangekoop en dan teen goedkoper verkoop as wat wettige handelaars kan vra.”
Die organisasie versoek sy lede om saam met die polisie en sekuriteitsmaatskappye te werk om die diefstal van neute hok te slaan.