
Makadamiakwekers gaan hul rieme dun moet sny, waarsku mnr. Pieter van der Westhuizen van die Makadamiakwekersforum. Hy het op ’n onlangse banke-dag van Makadamias SA (Samac) gesê die bedryf voorsien dat plaashekpryse vanjaar tussen R30/kg en R50/kg kan wissel.
“R30/kg is die slegste moontlike scenario en R50/kg sal baie beter vir ons wees, maar realisties kan mens seker R40/kg verwag,” het Van der Westhuizen in sy voorlegging aan finansiële instellings se landbouhoofde gesê.
Hy het gesê hoewel faktore soos produksiegebied, wisselkoers, en landbou- en verwerkingspraktyke ’n impak op boere se oes kan hê, behoort boere wat 2,5 ton makadamias en meer per ha oes, winsgewend te kan boer. Hoe groter die opbrengs, hoe meer die wins.
Dié berekeninge is gemaak teen ’n wisselkoers van R17 teenoor die dollar.
Boere het drie jaar gelede nog R90/kg vir hul makadamianeute verdien, maar Van der Westhuizen het gesê die volgehoue covid-19-inperkings in China die afgelope drie jaar en die ekonomiese impak van die oorlog in Oekraïne op die wêreldekonomie het makadamianeute swaar getref.
“Tot die helfte van Suid-Afrika se makadamia-oes is in die verlede na China verskeep, maar dié land se bevolking is nou al drie jaar lank in hul huise opgekluister en kon nie aan die groot feeste waar daar makadamias verbruik word – soos die Chinese Nuwejaar – deelneem nie. Hulle vier tans die eerste keer sedert 2019 die nuwe jaar op tradisionele wyse.
“Dit het ’n groot impak op Suid-Afrika se makadamia-uitvoer gehad. Ons moes skielik meer neute na ander markte uitvoer en die groter aanbod het pryse in daardie markte onder druk geplaas.”
Met genoeg oorstaanvoorraad het China ook nie soos in die verlede reeds vroeg in die jaar groot hoeveelhede ongedopte neute aangekoop nie. Dit het produsente en verwerkers se kontantvloei beïnvloed.
Oordrag voorraad
Mnr. Pierre Cronjé, voorsitter van Samac, het gesê die sluier van onsekerheid oor wat in China aan die gang is, is die faktor wat dit die moeilikste maak om markvoorspellings vir makadamianeute te maak. “Ons kon drie jaar lank nie in China kom om te sien hoe hul aanplantings lyk nie. Ons kon nie ons kopers daar in die oë kyk en gesprekke voer of onder verbruikers bemark nie. Ons hoop en glo dat die Chinese Nuwejaar wat tans gevier word, sal help om baie van die oordragvoorraad in die Chinese mark op te neem.”
Hy is ook optimisties oor die res van die wêreld se vraag na makadamianeute. Hy glo dat die wêreldekonomie binne die volgende ses tot agt maande gaan begin herstel en het gesê dit is juis dan dat kopers met hul nuwe aankope begin.
“Ons probleem is om die veranderde kontanvloeipatrone te bestuur. Dit is hier waar boere en/of verwerkers by banke gaan aanklop om hulp,” het Cronjé gesê. Daar is ’n moontlikheid dat Chinese kopers gaan aanhou om eers later in die jaar voorraad aan te koop en dat dit ’n nuwe benadering tot kontantvloeibestuur op lang termyn gaan verg.
Hy voorsien dat daar van nou af altyd oordragvoorraad op die makadamiamark gaan wees, maar het gesê dit maak deure oop vir verwerkers om makadamianeute as permanente produklyn aan handelaars te bemark. “Tot nou toe kon ons dit nie doen nie, want ons kon nie volgehoue lewering waarborg nie. Met meer boorde in produksie, groter oeste en beskikbare oordragvoorrade kan ons nou sulke waarborge lewer.”
Cronjé het daarop gewys dat net een groot handelsgroep wat makadamianeute as permanente produklyn aanhou, die bedryf oornag weer op ’n groeikurwe kan plaas.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.