
’n Toename word gesien in die voorkoms van Oosterse vrugtevlieë in mangoboorde weens die swaar reën oor groot dele van die somerreënstreek. Die toename kan ook toegeskryf word daaraan dat aasbespuitings in mangoboorde weens die reën afwas. Boere word derhalwe versoek om hul toerusting dienooreenkomstig aan te pas.
Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling stel luidens ’n verklaring voor dat blokke vir die manlikevernietigingstegniek op die voorgeskrewe afstande uit mekaar by gasheergewasse geplaas moet word. Proteïen-aasstasies kan saam met aasbespuitings uitgeplaas word, aangesien dit minder geneig is tot loging in reënweer as dit korrek opgestel is.
Produsente word aangemoedig om vrugte wat in boorde val, weekliks te verwyder as ’n doeltreffende maatreël om plaagbevolkings te verminder. Produsente moet vrugtevliegbevolkings monitor deur metiel-eugenol-lokvalle te gebruik. Hulle sal dan tydig maatreëls kan toepas om die plaag te bekamp.
Oosterse vrugtevlieë besmet meer as 70 soorte kommersiële en wilde vrugte. Mango’s is veral vatbaar. Dit is noodsaaklik dat alle belanghebbendes vrugtevlieë bestry op die voorgeskrewe beheermaatreëls soos uiteengesit in die Wet op Landbouplae (Wet 36 van 1983). Dit maak voorsiening vir maatreëls om die verspreiding en vestiging van die plaag in nuwe gebiede te bekamp, sê mnr. Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement.
Die departement versoek ook dat alle belanghebbendes moet aansoek doen om ’n verwyderingspermit by die departement as hulle gasheergewasse van besmette na niebesmette gebiede wil verskuif. Niebesmette gebiede is die Oos-Kaap, die Wes-Kaap, die Noord-Kaap en die Vrystaat.
Verwyderingspermitte gaan slegs uitgereik word wanneer die vrugtevliegbestuursmaatreëls gevolg en bevolkingsvlakke tot ’n aanvaarbare vlak verminder is. Sulke permitte kan teruggetrek word indien die vrugtevlieggetalle in ’n gebied tot onaanvaarbare vlakke styg.