Suid-Afrika se mangoboere het nog nooit voorheen soveel mango's as die afgelope seisoen (2000/2001) se produksie van meer as 87 000 ton geoes nie.
Mnr. Stephan Crafford, bestuurder van die Suid-Afrikaanse Mangokwekersvereniging (SAMKV) op Tzaneen, sê dié oes was meer as 20 000 t groter as die 67 000 t wat in die vorige seisoen (1999/2000) gepluk is.
'n Bedryf kan wel maklik sy produksie verhoog, solank dié groter hoeveelhede nie die markpryse demp nie, maar in enige ander geval moet boere betyds let op gevaartekens. Mnr. Crafford het op die SAMKV se na-oeswerksessie by Swadini, naby Hoedspruit, gesê dié hoër opbrengs is saamgestel deur verhoogde uitvoer (4 000 t), die plaaslike mark (3 000 t), droging (3 500 t), atjar (3 500 t) en sap (5 500 t).
Vergelykende mark- en verwerkingsyfers vir mango's | |||
Mark | Seisoene | ||
1999/00(t) | 2000/01(t) | ||
Plaaslike mark | 20 277 | 23 366 | |
Uitvoermark | 13 071 | 17 375 | |
Verwerking: | |||
Droog | 4 500 | 8 128 | |
Atjar | 20 000 | 23 561 | |
Sap | 9 500 | 15 153 | |
Totaal | 67 348 | 87 583 |
Uitvoer
Uitvoer het toegeneem van 13 071 t in 1999/2000 tot 17 375
t die afgelope seisoen. Dit beteken dat sowat 4,3 miljoen kartonhouers uitgevoer
is. Hoewel daar gemengde gevoelens is oor die gehalte van die uitgevoerde
mango's, word dit steeds as 'n redelik goeie seisoen beskou wat hoeveelhede en
pryse betref.
"Miskien moet 'n mens die afgelope seisoen meer in isolasie beskou, want - gelukkig vir Suid-Afrika - het Brasilië én Peru nie baie gehad om aan die Europese markte te lewer nie," sê mnr. Crafford.
Dit was 'n laat seisoen met 'n veel groter Tommy Atkins-oes as wat verwag is. Van die uitvoer was 53 % van die kultivars Tommy Atkins, 27 % Kent, 15 % Keitt en die res van die uitvoermango's het 5 % verteenwoordig. Van ál die Suid-Afrikaanse mango's wat afgekeur is, was 41 % van die kultivars Tommy Atkins, 34 % Kent, 20 % Keitt en die res het 5 % verteenwoordig.
Volgens mnr. Crafford wil die bedryf nie graag meer as 300 000 kartonhouers per week uitvoer nie. Uitvoerskattings is een van die aspekte wat die bedryf tot kommer stem. Aan die begin van die seisoen is geskat dat 4,3 miljoen kartonhouers uitgevoer sou word. Dié skatting is in die middel van die seisoen tot 'n meer konserwatiewe 3,5 miljoen houers aangepas.
Uiteindelik is 'n totaal van 4,3 miljoen kartonhouers uitgevoer: 3,9 miljoen houers na Europa en 292 377 houers na die Midde-Ooste.
In die 1999/2000-seisoen was die gemiddelde plaaslike markprys vir 'n 4 kg-houer R10, wat tot R16 per houer in die 2000/2001-seisoen gestyg het. In dié stadium lyk dit asof die gemiddelde Suid-Afrikaanse markprys sowat R2 per kartonhouer laer as verlede seisoen (2000/2001) is.
In die algemeen is laer pryse die afgelope seisoen betaal vir mango's vir versapping en vir verwerking tot atjar, terwyl beter pryse waarskynlik betaal is vir mango's wat vir droging bestem was, sê mnr. Crafford.
Volgens mnr. Frikkie Eygelaar van PPECB (die Raad van Toesig op die Uitvoer van Bederfbare Produkte) is gehaltekontrole by 35 pakhuise, asook by die Johannesburgse Internasionale Lughawe gedoen.
"Die hoogtepunt van die seisoen was sekerlik dat meer gelewer is as wat ons verwag het. Die gehalte en raklewe van die mango's was beter as dié van die vorige seisoen. Dit kan toegeskryf word aan droër en warmer klimaatstoestande," sê mnr. Eygelaar.
Die getal kartonhouers wat vir inspeksie aangebied is, het van 3 290 488 houers tydens die 2000/2001-seisoen tot 4 412 686 houers gedurende 2001/2002 toegeneem. Dit verteenwoordig 'n toename van 34,1 % en was sekerlik die plaaslike mangobedryf se grootste oes nóg. Die kultivars Tommy Atkins, Kent en Keitt het die grootste deel van die uitvoer uitgemaak, met klein hoeveelhede Sensation en Zill. Tommy Atkins het dié seisoen 'n uitstekende kleur gehad, terwyl Kent 'n baie onaantreklike kleur gehad het.
Mnr. Eygelaar sê nieteenstaande die goeie oes, was daar ook nadelige faktore soos oormatige dopluismerke en ernstige sonbrand. Dit het meegebring dat baie vrugte verlore gegaan het vir uitvoer en daarom was die uitpakpersentasie baie laag.
Altesame 200 013 kartonhouers mango's of 4,5 % van die uitvoer is afgekeur weens dopluismerke, beserings, letsels en mangokewerskade. Ten spyte van die afgelope seisoen se groter hoeveelhede, is 2,4 % minder vrugte afgekeur as in die vorige seisoen.
'n Hoë mate van pitontkieming het teen die einde van die seisoen veral in die Hoedspruit-gebied voorgekom. Gemengde rypheid was te wagte weens wisselvallige blom, maar boere het baie goed saamgewerk en geduldig gewag vir optimale rypheid. Interne verval by Keitt was heelwat minder as die vorige seisoen en kan toegeskryf word aan die beperking op die maksimum gewig per vrug wat uitgevoer mag word.
Mnr. Eygelaar sê mango's is die afgelope seisoen die eerste keer volgens gewigreekse verpak. Aanvanklike kommer dat dit moeilik sou wees vir pakhuise om aan dié vereiste te voldoen, was in 'n groot mate ongegrond en probleme is net in enkele gevalle ervaar.
Binnelandse behouering van uitvoermango's het toegeneem en daar is die afgelope seisoen 136 vraghouers gevul, wat 16,1% van die totale uitvoerhoeveelheid was. Meer boere gebruik dit omdat dit doeltreffende temperatuurbeheer moontlik maak.
Die probleme wat ondervind word, is dat vraghouers nie betyds en gereeld by die pakhuise opdaag nie en dat besprekingsinligting nie altyd beskikbaar is nie. Dié inligting is belangrik tydens die laai van die vraghouer om risiko's te verlaag.
Verkoeling
Mnr. Eygelaar sê weens die groot hoeveelhede en hoë dagtemperature dié seisoen, was dit onmoontlik vir pakhuise om hul mango's tot verskepingstemperatuur af te koel voordat dit na die hawe vervoer is. Die verkoelingsvermoë in die binneland is dus te min en verdien aandag, want goeie mango's gaan hand aan hand met goeie temperatuurbeheer.
Al hoe meer pakhuise word toegerus met bestuurs- en voedselveiligheidstelsels met die oog op gehalteversekering en om hul produk te kan verkoop. Dit wil egter voorkom asof sommige van dié pakhuise se afkeursyfers hoër as die gemiddelde is. Tog behoort só 'n stelsel 'n meer moderne vorm van gehalte-inspeksie deur PPECB tot gevolg te hê.
En dán, sê mnr. Eygelaar, is daar nog die neerslag-ontledings waarvoor die afgelope seisoen 136 monsters geneem is. Wat die middel Prochloraz betref, het 10 monsters minder as 0,2 dele per miljoen getoets, 95 monsters het tussen 0,2 en 2 dele per miljoen getoets, terwyl 13 monsters meer as 2 dele per miljoen getoets het.
Mnr. Eygelaar beveel die volgende aan vir die komende seisoen:
Die taamlik baie mango's wat oorsee afgekeur en vernietig word, is een van die bedryf se groot probleme.
Volgens mnr. Herklaas Steenkamp van Turfbult Boerdery, Komatipoort, kan die gehalte van uitvoersitrus bykans gewaarborg word, terwyl dit geensins die geval met mango's is nie. "Miskien moet ons eers die plaaslike mark nóg beter ontgin en só die uitvoervolumes verlaag. Ons konsentreer feitlik net op die groot varsproduktemarkte soos Johannesburg en Pretoria, maar kry die mense op byvoorbeeld Pofadder mango's?" vra hy.
Mnr. Johann du Preez van Bavaria Landgoed, Hoedspruit, skat dat van die sowat 4 miljoen kartonhouers mango's wat uitgevoer word, slegs sowat 2,8 miljoen houers wel verkoop word, terwyl die ander vernietig moet word. Dit kos 'n boer R22 tot R25 om een houer in Europa te kry en dan is daar só 'n groot persentasie wat nooit die mark haal nie.
"Hoeveelhede as sodanig is nie die probleem nie, maar wel ongekoördineerde hoeveelhede. En dit is nie só eenvoudig nie - dit gaan oor konstante toevoer en konstante gehalte," sê mnr. Du Preez.
Maar dan moet alles vooraf goed beplan en deeglik gekoördineer word. "Bavaria het die afgelope seisoen 30 vraghouers bestel, maar toe kry ek nie wat ek bestel het nie. Dit is omdat 'n ander uitvoerder vergeet het om sy vraghouers betyds te bestel, met die gevolg dat al die ander uitvoerders daaronder moes ly. Dit sê nie veel vir deursigtigheid nie, wat deesdae 'n woord is wat maar erg misbruik word," het mnr. Du Preez gesê.
Mnr. André Slabber van Westfalia Marketing steun mnr. Du Preez. Hy sê die bedryf weet van die uitvoerder wat nagelaat het om vraghouers te bestel. Hy vra ook groter deursigtigheid in die bedryf. Volgens hom kan Suid-Afrika se mangoboere hulself gelukkig ag dat Peru en Brasilië die afgelope seisoen swak weer gehad het.
Mnr. Wiedse Kruger, hoofbestuurder van die maatskappy Afrupro Exporters, reken boere moet self meer betrokke raak by die uitvoer van hul produkte en self verantwoordelikheid aanvaar.
Mnr. Richard Elphick, die SAMKV se voorsitter, sê die plaaslike mangobedryf sal meer mededingend moet raak teenoor sy Brasiliaanse eweknie. Vergeleke met Brasilië se mangobedryf, is die plaaslike bedryf baie klein. In Brasilië produseer een enkele mangoboer meer mango's as die totale plaaslike bedryf.
Miskien moet die plaaslike bedryf meer klem op oorsese bemarking lê en vir hom 'n nismark in die buiteland soek. Die waardetoevoeging van mango's deur verwerking tot sap, atjar en droëvrugte is 'n gunstige ontwikkeling. "Ons moet 'n groter mark vir dié produkte in die buiteland ontwikkel, want droë mango's beslaan maar sowat 10 % van onverwerkte vrugte. Deur droë mango's uit te voer, word dus nie net op duur vervoerkoste bespaar nie, maar daar is ook nie sprake van groot hoeveelhede vrugte wat afgekeur kan word nie," sê mnr. Elphick.
Volgens mnr. Harry Grové, die SAMKV se veldbeampte, bestee dié vereniging sowat R755 000 per jaar aan navorsing om oplossings vir veral gehalteprobleme te soek. Die belangrikste navorsingsvoorkeure vir die komende jaar is, in volgorde van belangrikheid: entomologie (alternatiewe beheer), fisiologie (lentiselskade), kultivarseleksie, patologie (alternatiewe beheer), fisiologie (interne verval), tuinbou (sonbrand), entomologie (galvlieg) en na-oes-patologie (alternatiewe).
19 Julie 2002