Mango’s staan dikwels in die skadu van hoëwaarde- subtropiese gewasse en sitrus oor dié vrug se aangewesenheid op die plaaslike mark en relatief laer inkomste per hektaar teenoor gewasse soos makadamianeute en avokado’s, maar vanjaar sê kwekers van hoëwaardegewasse wat ook mango’s het, die mango’s gaan dalk net die pot aan die kook hou.
Terwyl sitrus- en avokadokwekers nog tot verhaal kom ná wat as een van die moeilikste seisoene vir uitvoervrugte in baie jare beskou kan word, het mangokwekers begin oes aan vrugte waarvan die gehalte besonder goed is.
Mnr. Duo Landman van die Landman Groep op Hoedspruit sê baie sitruskwekers in die omgewing het ook mangoboorde en hy glo die goeie mango-oes kan help waar kontantvloei onder druk is ná twee opeenvolgende taai sitrusuitvoerseisoene.