Retha Redelinghuys is een van daardie vroue wat vir geen struikelblok terugdeins nie. Ná haar man se dood het sy, met van haar kinders se hulp, hul mango-en-sitrusboerdery op Hoedspruit oorgeneem. Nou leef die familie sy droom vir die plaas uit.
Destyds, toe sy uit Krugersdorp waar sy in die polisiediens gewerk het, by haar vriendin op Hoedspruit gaan kuier het, het Retha Redelinghuys net die veselrige Sabre-mango geken.
“Ons het dit krimpvarkies genoem,” onthou sy. Min het sy toe besef dat sy eendag haar eie mango-en-sitrusboerdery in die omgewing gaan bedryf.