Mango's wat ruim 'n maand gouer ryp word, is die gevolg van suksesvolle
proewe om dié bome se blomtydperk te manipuleer. 'n Suid-Afrikaanse boere wat
mango's in Mosambiek produseer, het pas die eerste oes van hierdie bome
gepluk.
Die groot voordeel as 'n boer se vrugte vroeër as die ander s'n ryp is, is dat hy ook eerste met sy vrugte op die mark is en dus hoër pryse behaal.
Dié induksietegniek waarmee die bome gemanipuleer word om gouer volwasse te word, berus op die beginsel dat die boom kunsmatig op 'n ander tyd as gewoonlik - weens die wisseling van die seisoene - aan strestoestande blootgestel word deur dit met 'n chemiese middel, pachlobutrasol, te behandel en die bome te snoei. Sodoende kan die boom gestimuleer word om gouer as gewoonlik te blom, of andersins glad nie te blom nie.
Dit is eersgenoemde tegniek wat mnr. Willem Landman, plantpatoloog van Geest Suid-Afrika (Spring Valley Foods), 'n internasionale voedselverwerkingsmaatskappy met sy hoofkantoor in Brittanje, nou suksesvol op die Mosambiekse mangoplaas van mnr. Mike Scott van Hoedspruit toegepas het.
Geest voeg waarde toe tot produkte soos vars vrugte, kruie, blaarslaai, pastas en pizzas deur dit gereed-om-te-eet te verpak. Die huisvrou koop dit in 'n winkel, neem dit huis toe en kan dit dadelik vir haar gesin voorsit.
In Suid-Afrika verwerk die maatskappy vars vrugte in sy fabriek op Bapsfontein, oos van Pretoria. Hulle spesialiseer in tropiese en subtropiese vrugte, asook 'n bietjie steenvrugte en druiwe. Die belangrikste soorte is mango's, spanspekke, pynappels en papajas. Nadat die vrugte verwerk en verpak is, voer hulle dit uit na Brittanje. Vrugte word gou nadat dit geoes is, verwerk en per vliegtuig uitgevoer, sodat dit die volgende dag reeds op die winkelrakke in Brittanje is.
Mnr. Landman, wat voorheen by die Mangokwekersvereniging gewerk het, is grotendeels by mango's betrokke.
Die klem is op besonder hoë gehalte en 'n lang raklewe. Dit is baie belangrik dat die vrugte wat gekoop word, fisiologies volwasse moet wees. Daarom word elke potensiële nuwe verskaffer vooraf deeglik gekeur en sy produksieproses goed bekyk voordat 'n kontrak met hom gesluit word.
Die maatskappy se landbou-afdeling maak baie seker die boerdery voldoen aan die streng Europese standaarde vir voedselveiligheid deur die boer se spuitrekords te bestudeer. Alle vrugte moet deurgaans naspeurbaar wees. Dit is 'n vereiste van supermarkte in die EU, sodat hulle presies kan vasstel waar 'n produk vandaan kom.
Een van Geest se groot uitdagings is om vrugte deur die jaar aan sy klante te verskaf. Hulle kan dit nie bekostig om iewers 'n gaping te hê wanneer sekere vrugte weens seisoensgebondenheid nie beskikbaar is nie, want dit veroorsaak dat verbruikers ontevrede raak. Die vrugtesoorte waarop hulle konsentreer, het almal 'n kort seisoen. Daarom voorsien Suid-Afrika net vir 'n kort tyd daardie vrugte. Verder voer Geest dit van ander lande oor die hele wêreld in. Vrugte kan ook nie vir 'n onbepaalde tyd opgeberg word nie, want dan boet hulle aan gehalte in.
Hulle ondersoek deurgaans metodes om 'n vrugtesoort se seisoen te manipuleer sodat dit vroeër of later as die ander vrugte in dieselfde streek volwasse is. Só word die streek se tydperk van lewering verleng. Minder vrugte hoef dan ingevoer te word.
Mnr. Landman het gevolglik in verskillende produksiegebiede van Suid-Afrika ondersoek ingestel na die moontlikheid om die bome se blomtyd te vervroeg. Die land het subtropiese gebiede wat ideaal vir mango's is, maar die winters is te koud en te lank om die blomtydperk te vervroeg. Hy het proewe op mnr. Scott se plaas by Hoedspruit gedoen, maar dit was net deels geslaag, met die gevolg dat vrugte nie op hierdie wyse kommersieel verbou kan word nie.
Mnr. Scott het die oplossing gebied. Hy en 'n vennoot, mnr. Piet Uys van Carolina, het 'n mangoboerdery 120 km wes van Beira in Mosambiek begin, waar die klimaat ideaal is. Die aanvoorwerk vir dié proewe is deur mnr. Dermot Cassidy, tuinboubestuurder van Geest, begin in sy soeke na nuwe produksiegebiede vir sekere soorte vrugte. Tydens een van mnr. Scott se besoeke aan sy boerdery in Mosambiek het mnr. Landman saamgegaan. Hy was tevrede met wat hy gesien en ervaar het.
Hy het twee jaar gelede met proewe op 'n klein deel van mnr. Scott se mangobome begin. Die hele proses behels die gebruik van verskeie planthormone waarmee verskillende resultate verkry word, onder meer gibbereliensuur, pachlobutrasol, etileen en kaliumnitraat. Die eerste seisoen het beperkte sukses gelewer. Mnr. Landman het sy proef toe tot 2 ha vergroot. Hy moes die boord oor 'n tydperk van twee jaar feitlik elke drie weke besoek om sy proewe te evalueer.
Die eerste oes is onlangs ingesamel en Landbouweekblad was by. Hierdie vrugte was 'n paar weke vroeër volwasse as ander vrugte in mnr. Scott se boorde, terwyl dit die eerste ryp mango's in Suid-Afrika met ruim vier weke geklop het.
Die tegniek om bome te manipuleer om vroeër te blom, is nie nuut nie. In Brasilië en lande in die tropiese gebiede groei vrugtebome só vinnig weens die baie reën en hitte dat dit soms nie wil blom nie. Blominduksie is dan nodig om 'n vrugte-oes moontlik te maak. Dit verleng die blomtyd en dit is selfs moontlik om twee oeste per jaar te hê.
Hierdie tegniek is vir Suid-Afrikaanse toestande aangepas omdat tropiese toestande nie hier voorkom nie. Hier wil die vrugtebedryf eerder net een oes hê, maar poog om die vrugte vroeër oesgereed te kry.
'n Impakstudie is gedoen om seker te maak daar is nie vreemde insekte in Mosambiek wat per ongeluk saam met die vrugte na Suid-Afrika oorgedra kan word wanneer dit hierheen uitgevoer word nie. Dit het getoon daar is nie grond vir sulke vrese nie. Hulle moet nogtans voldoen aan die fitosanitêre maatreëls wat vir die invoer van vrugte na Suid-Afrika geld.
Mnr. Landman se ideaal is om binne vyf jaar soveel mangobome te manipuleer om vroeg volwasse te wees dat dit moontlik sal wees om mango's heeljaar in Suider-Afrika te produseer.
21 Februarie 2003