
Hoe nader ’n mangoboord aan die natuurlike habitat van vlieënde insekbestuiwers is, hoe beter is bestuiwing.
Dié bevinding deur navorsers van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) se navorsingsentrum by Kirstenbosch en die departement dier- en insektekunde by die Universiteit van Pretoria impliseer onder meer dat mangoboorde verkieslik naby die beskermde natuurlike habitatte van insekbestuiwers moet wees.
Boere behoort dit ook te oorweeg om gebiede te skep wat “bestuiwer-vriendelik” is en dit in stand te hou. Die navorsing deur drr. Luísa Carvalheiro, Colleen Seymour en Ruan Veldtman en prof. Susan Nicolson toon dat miere en ander insekte mango’s doeltreffend bestuif. Soos die afstand van hul natuurlike habitat groter word, is daar ’n merkbare daling in die getal en spesie-rykheid van vlieënde insekte, soos bye, terwyl dit geen uitwerking op die miere het nie.
Organies teenoor konvensioneel
Die navorsing is op 12 mangoplase tussen die Nasionale Krugerwildtuin en die Blyderivierkloofnatuurreservaat in Mpumalanga gedoen. Vier van die plase volg organiese praktyke, met bye wat bestuur word, terwyl die ander agt plase konvensionele boerderypraktyke volg. Van dié agt het vier bestuurde bye gehad, terwyl vier nie bestuurde bye gehad het nie.
Hul navorsing toon dat nóg die afwesigheid van plaagdoders (in die geval van organise plase) nóg die aanvulling van blombesoekers deur die gebruik van bestuurde bye die ongunstige uitwerking van die afstand van die natuurlike habitat kan teëwerk. Data oor die voedselweb toon egter dat bestuiwergemeenskappe in stand gehou kan word deur ’n verskeidenheid van blomplante in die omgewing van boorde.
In die referaat skryf die navorsers dat hul bevindinge daarop dui dat bestuiwerdiversiteit dalk ook belangrik is, veral omdat die voedingstof- en watervlakke in die grond só gereeld gemeet en reggestel word.
Bron: Carvalheiro L., Seymour C., Veldtman R. en Nicolson S. 2010. Pollination services decline with distance from natural habitat even in biodiversityrich areas. Journal of Applied Ecology.