Boere moet eerder beter gehalte en opbrengste probeer najaag, is die raad van kundiges.
Mense in veral Afrika en Asië word ryker, wat beteken die mark vir appels in dié lande kan teen 2040 met 130% groei. Volgens dr. Nigel Cook, internasionale tuinboukundige konsultant van Elgin, vaar Suid-Afrikaanse appels uitstekend in Nigerië, Johannesburg en Dar es Salaam (Tanzanië), maar geleenthede in twee van Afrika se grootste stede, naamlik Kaïro (Egipte) en Kinshasha (Demokratiese Republiek van die Kongo), word misgeloop.
“Dit beteken ons mis die helfte van die Afrika-mark. Waar koop die Egiptenare appels in hul afseisoen? Ek weet nie, seker by Italië of Turkye. Hulle moet dit eintlik by ons koop,” het Cook op Hortgro se tegniese simposium op Somerset-Wes gesê.