
Dr. André Jooste, hoof uitvoerende beampte, het op ? mediabyeenkoms in Pretoria gesê aartappels tel onder die grootste gewasse in die land. Winsgewendheid het die laaste tyd egter gedaal weens stygings in die koste van onder meer lone, brandstof en elektrisiteit. Die uitdaging is om die verbruik te verhoog. As die aanbod toeneem en die vraag styg nie, sal dit pryse laat daal.
Mnr. Pieter van Zyl van Aartappels Suid-Afrika (ASA) se inligtingsdiens het gesê die getal produsente het gedaal, maar die nasionale oes neem toe. Daar is ook nie meer hektare beskikbaar vir aartappels nie, want besproeiingswater is skaars en ? boer het baie grond nodig weens die noodsaaklikheid om wisselbou te doen waarvolgens ? land net elke ses of sewe jaar onder aartappels geplant kan word. Twee maatskappye is besig om hul fabrieke te vergroot, wat die vraag na aartappels gaan laat styg.
Beter kultivars
Dr. Fienie Niederwieser van die afdeling navorsing en ontwikkeling het gesê opbrengs kan deur siektes verlaag word. Daarom doen hulle navorsing na beter kultivars wat ook aan die regte gehalte voldoen en verdraagsaam teenoor siektes is.
Me. Nomvula Xaba van die afdeling vir transformasie het gesê hulle beoog om teen 2015 minstens vyftig klein, kommersiële, swart produsente te hê. Finansiering is beskikbaar om hierdie boere te vestig en op te lei. Saam maak swart boere egter nog net 2,5% van die totaal van 650 produsente uit. Hulle produseer slegs 0,08% van die tonnemaat op sowat 0,09% van die hektare.
Mnr. Rudolf Badenhorst van markontwikkeling en produkbevordering het gesê hulle wil seker maak mense eet meer aartappels, maar ook dat hulle goeie waarde vir hul geld kry.