“Nou kan ek myself ’n aartappelboer noem.” Op grond in die Mara-omgewing wat hy teen die Soutpansberg huur en geduldig oor 15 jaar ontwikkel het, dra mnr. Aldrin Lawrence die kroon as topboer in Aartappels SA se Ondernemingsontwikkelingsprogram en oes 70 ton aartappels per hektaar.
Op die markte in Johannesburg en Pretoria het hy nou al ’n reputasie vir die goeie gehalte van sy aartappels opgebou en verdien hy ’n premie. Hy skryf dit toe aan sy klem op gehalte. “Jy kan op die sakkie druk net wat jy wil, maar die produk wat jy in daai sak sit – dít is jou naam.”
Lawrence het sy eerste spilpunt in 2017 gekoop en drie jaar gelede nog een aangeskaf. Vanjaar het hy vir die eerste keer ook aartappels onder drupbesproeiing geplant op die 2 ha waaruit sy pa, mnr. Gilbert Lawrence sy lewe lank ’n bestaan gevoer het.