
Vier tafeldruifplase het onlangs aan 'n toetslopie deelgeneem om die uitvoerbaarheid van die Milieurkeur-kode in Suid-Afrika te ondersoek. Tydens die seremonie in die Hexrivier-vallei waar die boere sertifikate ontvang het, was hulle baie optimisties oor die geleenthede wat die kode vir hulle sal oopsluit.
Drie van die tafeldruifplase, Meerlust en Mohein in die Hexrivier-vallei en Crystal View in die Oranjerivier-vallei, het die sertifiseringsproses geslaag. Die ander plaas het uitgeval omdat daar 'n chemiese middel gebruik is wat nie toegelaat word as jy aan die streng vereistes van die kode wil voldoen nie.
Bennie Cilliers, die finansiële bestuurder van Crystal View Vineyards in die Oranjerivier-vallei, erken dat dit vir Crystal View in die omgewing van R50 000 gekos het om alles in orde te kry sodat hulle aan die vereistes van die kode kan voldoen, maar noudat alles in plek is, sal kostes minimaal wees. “Dit is 'n goeie belegging in ons toekoms. 'n Boer moet verskaf wat die mark wil hê. Jy kan nie bekostig om agter te raak nie.”
Hy het bygevoeg dat Milieurkeur hoë aansien in Europa geniet: “Wanneer verbruikers 'n gesertifiseerde Milieukeur-produk sien, vra hulle nie vrae nie, hulle koop dit net. Daar word ook 'n premie vir die produkte betaal.”
Die kode word algemeen deur Europese produsente gebruik en was die idee van die Hollandse invoermaatskappy, Jaguar. Daar is vir die afgelope jaar hard gewerk om die kode by Suid-Afrikaanse produksie-omstandighede aan te pas. 'n Proses wat tot deur Nederland ondersteun word.
'n Baanbreker-kode
Volgens mnr. Kees Rijnhout, eienaar van Jaguar, is die kode 'n baanbreker wat oor tien jaar waarskynlik die norm vir winkelgroepe in Europa sal word, aangesien dit 'n waarborg is vir sosiale verantwoordelike en volhoubare produksie. Nederland beplan om vanaf 2020 net druiwe en sitrus wat aan die standaard voldoen, in te koop.
Die kode is nie so streng soos tradisionele organiese kodes nie, maar dit is omvattender as GlobalGap se produksiestandaarde. Dit gebruik ook die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf se etiese kode, SIZA, om sosiale verantwoordelike produksie te verseker.
Cilliers sê dink dit sal vir Crystal View Vineyards so R7655 sal kos, alle kostes ingesluit, vir 25 ha. “Daardie kostes sal ons met 'n glimlag betaal.” Rijnhout glo die kode is ’n markleier en dat dit oor tien jaar die standaard vir alle markte sal word. Hy het bygevoeg dat Nederland in die openbaar sal opstaan vir Suid-Afrikaanse boere wat aan die kode behoort indien daar weer voorvalle is soos stakings of negatiewe berigte teen Suid-Afrikaanse boere. Druiweboere sal vanaf die 2014/2015-druiweseisoen aansoek doen om Milieurkeur-sertifisering. Daar is nou ook 'n proeflopie met'n sitrusplaas. As alles goed afloop sal sitrusboere van volgende jaar kan aansoek doen vir die sertifisering. Byskrif: Mnre. Pierre van Zyl van Mohein Farms in die Hexrivier-Vallei, Jaco du Toit van Meerlust in die Hexrivier-vallei, Wouter Beukes van Mohein Farms, die Nederlandse ambassadeur, André Haspels, Bennie Cilliers van Crystal View Vineyards in die Oranjeriviervallei en Hannes du Toit van Mohein Farms met hul Milieurkeur-sertifikate. Foto: GLENNEIS KRIEL