
Mnr. Attie van der Berg, Oos-Vrystaatse verteenwoordiger van Aartappels Suid-Afrika (ASA), sê dié verwagting spruit uit die sowat 1 200 hektaar wat tot dusver vanjaar minder aangeplant is teenoor verlede jaar.
Hy het op ’n inligtingsdag van die Oos-Vrystaatse Aartappelwerkgroep op Warden gesê tussen 28 000 en 30 000 hektaar is reeds aangeplant of is besig om geplant te word. “Die verwagting is dat nie veel meer as 1 000 hektaar verlore sal gaan nie,” sê hy. Die groot streke waarvan 2014 se inligting nog nie beskikbaar is nie, is die Sandveld en Limpopo. Die streke wat reeds geplant het, het bykans almal minder hektare aangeplant.”
Die verwagte afname in aanplanting beteken nie skerp prysstygings vir die verbruiker nie. Volgens ASA kan die reële prys vir aartappels, ná inflasie-aanpassing, vir 2014 sywaarts beweeg of selfs afwaarts.
Volgens Van der Berg was Januarie se gemiddelde markprys vir alle markte sowat R1,11 per sakkie van 10 kg sakkie beter as in Januarie 2013, hoewel effens meer aartappels na markte gekanaliseer is.
Normale prystendens
Die dalende prystendens sedert begin Januarie is normaal vir die tyd van die jaar. Die langtermyn-prystendens toon dat pryse vanaf begin Januarie tot einde Maart ’n dalende tendens volg. Vanjaar behoort nie hiervan af te wyk nie. Heelwat reën wat met hoë temperature gepaardgegaan het, het onder meer die houvermoë van aartappels negatief geraak. Verlede jaar is sowat 2% minder aartappels na die markte gekanaliseer, maar die gemiddelde markprys was 28% beter.
Gedurende die eerste 7 weke van 2014 het feitlik dieselfde verkoopsvolumes gerealiseer as die ooreenstemmende tydperk verlede jaar, maar die gemiddelde prys per sakkie van 10 kg was R2,16 beter as in 2013. Die hoër prys vir Januarie was vanweë goeie prysvlakke gedurende Desember 2013.