
Verlede jaar is altesaam 25 228 ton koejawels in die Wes-Kaap geoes. Vanjaar hang daar ’n beraamde 24 850 ton aan die bome, maar produsente en verwerkers het op die Koejawelprodusentevereniging (KPV) se jaarvergadering op Simondium twyfel uitgespreek of dit gehaal sal word.
“Daar is benoudheid in die bedryf. Ek dink ons gaan ’n stiller, laat seisoen hê,” het mnr. Jacques Jordaan, uitvoerende hoof van die KPV, gesê.
Die kleiner oes is onder meer te wyte aan die laat winterreënval.
“Winterdae van 25 °C is nie wat koejawels soek nie. Ek hoop ons sien beter vruggroottes en -gewig ná die goeie reënval wat ons tans ervaar.”
Koejawelboere uit verskillende streke het ook kommer uitgespreek oor die huidige oes wat aan die klein kant lyk.
Volgens mnr. Shaun Swanepoel van Wellington is dit ’n redelik moeilike seisoen. “Ons het ’n baie koel lente gehad, maar is al in Januarie met hittegolwe geslaan wat gewoonlik eers in Februarie kom. Ons het Februarie ook hittegolwe gehad.”
Veral een naweek het die suidoostewind amok gemaak.
“Daar was dus groot afspeen en windskade. Droogte was ook ’n probleem en produsente moes meer bestee aan besproeiing.”
Hy het reeds sowat ’n helfte van sy oes gepluk. “Dit lyk goed sover, al is daar probleme wat die natuur gebring het.”
Mnr. Willem Grobbelaar, voorsitter van die KVP en koejawelboer van die Drakensteinvallei, sê die oes is sowat drie weke laat.
“Ons is onseker oor die volumes, omdat ons nog nie so baie geoes het nie. Daar is bome met nog baie kleiner vrugte aan, terwyl ander bome se vrugte maar dun gesaai lyk. Ons bly egter hoopvol.”
Altesaam 70% van die koejaweloes word vir sap en puree aangewend. Sowat 24% word vars bemark en die oorblywende 6% word ingemaak.