
Na verwagting sal 778 miljoen liter goeie wyn vanjaar vervaardig word. Dit is 2% meer as die volume wat in 2007 gelewer is. Die totale vraag vanjaar word geraam op 804 liter wat ook 2% laer is as die vraag in 2007.
Die totale uitvoere behoort sowat 54% te verteenwoordig van die totale vraag. Dié aandeel van uitvoere behoort toe te neem tot sowat 59% van die totale vraag teen 2015, hoofsaaklik weens ’n verwagte afname in die plaaslike vraag.
Wat die verhouding van die prys van goeie wyn en eindvoorraad betref, reken die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) dat die vraag groter sal wees as die voorsiening met die gevolg van krimpende voorraadvlakke vir beide rooi- en witwyn.
Na ’n afname in die reële prys van witwyn oor die afgelope vyf jaar, lyk dit asof die gemiddelde prys van witwyn wat in groot volume gekoop word marginaal kan styg vanjaar. En dit wil lyk asof hierdie prysstyging kan voortduur.
Die dalende neiging van gemiddelde rooiwynpryse wat in groot volumes verkoop word behoort ook, soos in die geval van witwyn, vanjaar ’n ommeswaai te beleef.
In reële terme behoort die gemiddelde prys van witwyn vanjaar terug te keer na die prysvlakke van R2,30 per liter wat in 2007 gegeld het, terwyl rooiwyn teen ’n gemiddelde prys van bykans R3,50 per liter teen 2015 behoort te verhandel.
25 Junie 2009