
Die enigste wyndruifproduksie-gebied in Suid-Afrika wat nie ’n afname in sy oes vir die 2010-seisoen verwag nie, is die Oranjerivier-omgewing, sê die Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -stelsels (Sawis). Die grootte van volgende jaar se oes behoort 1 319 246 ton te beloop, sê dié organisasie.
Dit is 0,8% laer as vanjaar se oes. In die Oranjerivier-streek sal die oes na verwagting 30% groter wees vanweë ’n goeie seisoen tot dusver, lui ’n verslag van Sawis. Vanjaar se oes in dié gebied was egter sowat 31% kleiner verlede jaar s’n.
Alle ander wynproduserende streke verwag ’n kleiner oes weens onder meer ’n laat winter, wat ongelyke of vertraagde bot tot gevolg gehad het, en gereelde reën, wat donsskimmel en oesverliese veroorsaak het. Ander plae, soos kalanders, krompokkels en slakke, het ook skade veroorsaak. Die afname in die land se totale wingerdstand het sedert 2006 met 821 ha afgeneem, wat oesvooruitsigte ongunstig beïnvloed.
Minder wyn en brandewyn
Binnelandse wynverkope het tussen November verlede jaar en Oktober vanjaar met 5,7% tot 295 miljoen liter gedaal, terwyl brandewynverkope in dié tydperk met 8,8% gesak het. Daar is egter 9,4% meer verpakte wyn uitgevoer, maar 20% minder grootmaatwyn is na die buiteland verskeep.
Volgende jaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi sal na verwagting binnelandse wynverkope ’n hupstoot gee, wat die afname in verbruik weens die ekonomiese insinking sal teen werk. Dít sal na verwagting wyn- en brandewynverkope volgende jaar eweredig hou.
17 Desember 2009