
Die staatsbeheerde mynmaatskappy wat beoog het om in die Kaapse wynlande te prospekteer, het dié plan beslis laat vaar.
Mnr. Mandla Tayala, woordvoorder van die African Exploration and Mining Finance Corporation (AEMFC), het aan Landbou.com bevestig dié aansoek is van die tafel.
Die raad het reeds verlede week besluit om die aansoek te laat vaar, maar vroeër vandeesweek het die Departement van Minerale Hulpbronne se mnr. Mzukisi Mafuya aan grondeienaars wat deur die aansoek geraak is, gesê die aansoek gaan voort.
Dit het grondeienaars die josie in gemaak, en hulle het gevoel hulle word doelbewus deur die maatskappy mislei. Tyala het egter gesê: “Die besluit om die aansoek te onttrek is deur die maatskappy se raad geneem. Ons is besig met die proses om dit formeel aan die departement te kommunikeer.”
Volgens mnr. Gary Jordan, eienaar van Jordan-wynlangoed en een van die plase wat deur die aansoek bedreig word, vertrou hulle nie dié stelling voor die Departement van Minerale Hulpbronne ook bevestig die aansoek is gestaak nie. Hy sê die streekskantoor en AEMFC se kantore is in dieselfde gebou.
17 Maart 2010