Hulle het heelhartig hul pa, John, se droom om ’n plaas in die Boland te besit, omarm en dit hul eie gemaak. Só vertel Johnathan Grieve, wat tans die leisels hou op dié biodinamiese wyn-en-beesplaas.
Die landgoed dateer van 1693. Op die oorspronklike titelakte word daar aangedui dat 200 wingerdstokkies destyds saam met die plaas uitgegee is. As Johnathan terugdink aan 1997, toe hulle die plaas gekoop het, was dit “nogal ’n dooie plaas”.
“ ’n Mens dink altyd ’n plaas is lewendig, met baie diere en dinge, maar toe ons hier kom, was dit die teenoorgestelde,” vertel hy oor die grond, met net minder as 70 ha wingerd.