
'n Wyn van die Weskus vír die Weskus. Dit is maar één manier om die Donkiesbaai Steen 2011 te beskryf. Die Donkiesbaai Steen 2011 is mnr. Jean Engelbrecht van Rust en Vrede naby Stellenbosch se jongste wyn.
Mnr. Ken Forrester, voorsitter van die Chenin blanc-assosiasie (CBA), het onlangs gesê Chenin blanc is 'n idee waarvoor die tyd ryp is. Hy meen ook dit is die trekker wat die wynbedryf moet aandryf.
Oplewing van Chenin blanc
Engelbrecht sê self hy is aangegryp deur die oplewing van Chenin blanc in Suid-Afrika en het pas Donkiesbaai Steen 2011 bekend gestel. Hoewel hulle al lank daaroor praat, wou die stukke van die legkaart egter nie heeltemal in mekaar steek nie voordat hulle die regte druiwe in die hande gekry het.
Mnr. Coenie Snyman, wynmaker by Rust en Vrede, vertel hulle het 5 ton Chenin blanc by mnr. Steven Mouton gekoop. Mouton boer teen die hange van die Piekenierskloof (tussen Citrusdal en Eendekuil) en die betrokke blok is al in 1979 geplant.
“Die hele prentjie het bymekaar gekom. Dit was druiwe van die Weskus, baie naby aan Donkiesbaai. Die kultivar het gewerk en die druiwe se gehalte was baie goed.”
Volgens Engelbrecht was Chenin blanc in vervloë tye die arm man se wyn. Daarom wou hy ‘n onpretensieuse wyn maak – een wat lekker saam met seekos en 'n braai by die see geniet kan word.
Dit verklaar ook waarom die kultivar as Steen – soos Chenin vroeër bekend gestaan het – op die etiket aangedui word.
En hoewel Chenin blanc dikwels as die werkesel van kultivars beskryf word, is dié donkie eerder 'n volbloedperd. Gedurende die wynmaakproses is taamlik baie geproe en versny totdat die eindproduk perfek was.
Vruggeure
“Die styl waarvan ons hou, bestaan uit 55% vatgefermenteerde wyn (vierde vul) en 45% wyn wat in vlekvrye staal gegis het. Ons wou nie die wyn toegooi met hout nie, maar wou primêre vruggeure hê wat deur die romerigheid van die hout aangevul word,” sê Snyman.
Die wyn se romerigheid word deur plomp Walvisbaai-oesters weerspieël en daar was nie 'n beter plek vir die bekendstelling as Swakopmund se Langstrand nie.
Die wyn is genoem na die Engelbrechts se jare lange vakansieplek aan die Weskus, Donkiesbaai.
Hier is die see oorvloedig. Daar word baie maal verwys na Donkiesbaai as die plek waar die kreef sommer uit die see op die strand uitstap om geëet te word.
Padborde net noord van Lambertsbaai dui egter die rigting na Donkinsbaai aan.
Die plek is oorspronklik na sir Rufane Shaw Donkin genoem, maar die volksmond het dit vinnig Donkiesbaai gedoop. Slegs sowat 2 100 bottels Donkiesbaai Steen is geproduseer en dit is teen R200 per bottel beskikbaar.
Kyk hier na 'n video van die vrolike bekendstelling en kyk hoe Engelbrecht en Snyman oor die wyn gesels.
23 November 2011