Ek het my deeglik probeer voorberei op die covid-19-pandemie. Ek het gedink ek was gereed vir die grendeltyd. Maar ek is onkant betrap deur twee dinge – die byna landwye wanfunksionering van munisipale ondersteuningstrukture en die alkoholverbod, waaronder ’n tydelike verbod op wynuitvoer.
Gevolglik was die pandemie ’n sielkundige hindernisbaan wat almal in die wynbedryf gehawend gelaat het . . . en party reeds gebroke. Anders as in Brittanje of Europa het Suid-Afrika nie die finansiële hulpbronne om ondernemings en individue te vergoed vir hul verlies aan inkomste nie.
Baie werkgewers in die toerisme-, gasvryheids- en wynbedryf moes banklenings kry om werknemers te vergoed. Amper erger as die finansiële terugslae was die besef van hoe die regering die wynbedryf sien.