
’n Hoogs suksesvolle wynfees in Windhoek het bewys Afrika staan met oop arms en wag vir landbouprodukte uit Suid-Afrika.
Sedert mnr. Jean Engelbrecht, Stellenbosse wynboer en restaurateur, sowat ’n jaar gelede die gewilde The Stellenbosch Wine Bar and Bistro in Klein-Windhoek geopen het, het hierdie restaurant met sy gesogte Suid-Afrikaanse wynlys ’n vername afsetpunt vir Suid-Afrikaanse wynboere in Namibië geword.
'n Goeie wynbestemming
“Namibië was nog altyd ’n goeie wynbestemming. Die mense hier drink eintlik baie wyn en ek dink wynboere in Suid-Afrika het dit die afgelope drie of vier jaar agtergekom,” vertel Engelbrecht.
Die doel agter The Stellenbosch se wynlys is om eerder ’n kleiner prysverhoging te neem, maar groter volumes te verkoop. Te oordeel na die aantal voete wat elke aand die restaurant binnestroom, is dit ’n plan wat werk.
Tans is daar 42 wynprodusente op die wynlys, en Engelbrecht is gretig om dit uit te brei om nog landgoedere in te sluit. “Ons dra nie baie voorraad nie, maar dit is baie maklik om vervoer te reël,” vertel Engelbrecht.
Wynfees
Sy nuutste projek was ’n klein wynfees in die binnehof voor The Stellenbosch. Slegs 200 kaartjies is daarvoor beskikbaar gestel en almal het binne ’n uur ’n baas gekry.
Altesame 15 Suid-Afrikaanse wynlandgoedere het elk hul drie beste wyne vertoon. En hoewel die wynfees slegs om bemarkings- en bekendstellingsgeleenthede gegaan het, is meer as R80 000 se wyn verkoop.
“Die Windhoekers het duidelik ’n groot waardering vir wyne van Suid-Afrika af en ons het dit goedgedink om ’n slag die wyne vir hulle te bring. Ek dink dit is ’n baie onderskatte mark. Die Namibiërs is eintlik groot wyndrinkers. Dan het hulle natuurlik ook ’n enorme groot toerismesektor wat baie lodges insluit.”
Afrika toon groei
Prof. Nick Vink, voorsitter van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, het onlangs gesê Engeland, Swede en Duitsland toon onderskeidelik ’n afname van 44%, 15% en 20% as markplek vir Suid-Afrikaanse wyn. Afrika, aan die ander kant, het met 8% gegroei.
“Dit is ’n aanduiding waar die toekoms vir Suid-Afrika se landbou lê,” meen Vink.
Dit was opvallend dat die wynliefhebbers wat die Namibiese fees bygewoon het, bekend was met Suid-Afrikaanse wyne en in baie gevalle die stories agter die wyne geken het.
Heelwat van dié wynkennis kom natuurlik uit studentedae, want die meerderheid van Namibiërs wat aan die Universiteit Stellenbosch gradueer, keer na Windhoek terug.
“Hierdie wynfees is die eerste een wat ons aanbied en ons sal dit volgende jaar weer doen. Dit sal baie lekker wees as ons dit ’n bietjie kan uitbrei en nog landgoedere kan betrek,” sê Engelbrecht.
Groot geleenthede
Ook die wynmakers is opgewonde oor die geleenthede wat Namibië inhou en het die inisiatief verwelkom. Soos mnr. Dawie Botha van L’Ormarins sê: “Wynfeeste soos hierdie een help ons om bierdrinkers in wyndrinkers te verander.”
Mnr. Beyers Truter sê Beyerskloof is baie gewild in Namibië en dié land maak sowat 3% van hul totale omset uit. “Die Suid-Afrikaanse wynbedryf was dom om nog nie voorheen Afrika aan te durf nie.”
Mnr. Peter de Wet van De Wetshof sê die mark naaste aan die huis is altyd vir hulle die belangrikste: “Suid-Afrika is dus vir ons die belangrikste en daarna kom Afrika. Afrika drink nog nie baie wyn nie en dit is dus volumegewys nie baie belangrik nie, maar wat die ligging betref, is dit baie belangrik.”
21 November 2011