
Die vereniging, wat deur vier Namibiese wynmakers begin is, wil deur steun aan druiweboere en wynmakers ’n verdere bydrae tot die Namibiese ekonomie lewer.
Die geskiedenis van die wynbedryf in Namibië dateer terug na 1884, toe Duitse Katolieke priesters die eerste wingerde op die stuk grond van St Paul’s College in die Klein Windhoek-vallei aangeplant het. In 1904 het die Duitse regering selfs die verbouing van druiwe en olywe aangemoedig, maar weens Namibië se dor klimaat, is die fokus na Suid-Afrika verskuif. Voor sy onafhanklikheidswording moes Namibië inderdaad halt roep met sy druiweverbouing om Suid-Afrika se wynbedryf te beskerm. In 1990 is die Kristall Kellerei-wynmakery op Omaruru gestig en vandag maak dié wynmakery, wat in 2008 deur die NAWGA se voorsitter, mnr. Michael Weder, gekoop is, topgehalte-wyne.
Benewens Kristall Kellerei, bestaan Namibië se wynroete vandag uit twee ander wynmakerye: die Thonningii-kelder op Otavi, wat deur die NAWGA se ondervoorsitter, dr. Bertus Boshoff, besit word, en Neuras: N/a’an ku sé, ’n wyn- en natuurlewelandgoed op die rand van die Namib-woestyn. Die Cheetah-bewaringsfonds het sy eerste wingerde in 2005 aangeplant en het die afgelope twee jaar twee oeste gelewer. In 2009 het mnr. Heiko Pfafferott wingerde op die Ahrensburg-plaas naby Otjiwarongo geplant en die eerste oes word in 2014 verwag. Die keldernaam is Omumbara.
Pfafferott meen met die keuse van geharde en droogtebestande druifvariëteite, tesame met die ontwikkeling van vaardighede en langtermyn-belegging, kan 'n klein, maar groeiende wynbedryf in Namibië gevestig word. “Wêreldwyd is die verbouing van druiwe en wynmaak 'n kuns en leefstyl wat Namibië nou omhels.”