
Die Landbounavorsingsraad (LNR) se aansoek om die geneties gemodifiseerde (GM) SpuntaG2-aartappelkultivar vir kommersiële aanplanting in Suid-Afrika beskikbaar te stel, is afgekeur. Die betrokke aartappel is immuun teen die aartappelmot.
Die navorsing na dié aartappelkultivar is deur openbare geld en geld van die Universiteit van Michigan in Amerika en die Verenigde State se Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling (Usaid) gefinansier en het sowat ses jaar geduur. Die aartappelbedryf het verlede jaar sterk teenstand getoon teen die SpuntaG2 en Aartappels SA het die nuwe kultivar se voordele vir Suid-Afrikaanse aartappelboere bevraagteken. Daar was egter ’n gunstige reaksie op die aartappelkultivar van AfriBio, ’n GM-belangegroep, wat die SpuntaG2 as ’n “seën" vir kleinskaalse, plaaslike aartappelboere beskryf het.
Die Afrikasentrum vir Bioveiligheid (ASB) het ook protes aangeteken en hou voor dat die aartappelkultivar nie net geen voordeel vir plaaslike boere inhou nie, maar inderwaarheid ’n risiko inhou. Die ASB het ’n formele beswaar by die voormalige Departement van Landbou en Grondsake ingedien wat die kommer van Aartappels SA, McCain Foods Bpk., McDonald's, Spur, Simba en Fruit & Veg City uitgespreek het.
“Ons is gelukkig met die besluit om nie die GM aartappel beskikbaar te stel nie. Dit bevestig ons siening dat dié aartappelkultivar nie ontwikkel is met die probleme wat Suid-Afrikaanse aartappelboere moet hanteer in gedagte nie. Dit is eerder ’n oplossing op soek na ’n probleem,” sê me. Mariam Mayet, direkteur van die ASB.
’n Paar feite oor GM in Suid-Afrika
Luidens ’n mediaverklaring van die ASB is Suid-Afrika die enigste Afrika-land wat GM voedselplante, in dié geval mielies en sojabone, kommersieel beskikbaar gestel het. Die organisasie sê Suid-Afrika is ook die enigste land in die wêreld wat die genetiese modifikasie van sy stapelvoedsel, mielies toegelaat het.
Egipte, Kanada en Amerika se vroeëre pogings om GM aartappels beskikbaar te stel, het ook misluk. Geen GM aartappels is tans in die wêreld beskikbaar nie.
Die patentreg op SpuntaG2 se gene word deur die saadmaatskappy Syngenta gehou.
19 Oktober 2009