
Wynliefhebbers kan nou deelneem aan die vieringe van die geboorte van die wynbedryf in Suid-Afrika 363 jaar gelede, aangesien jy ook aanlyn ’n glasie daarop kan klink.
Suid-Afrika is die enigste land ter wêreld wat die bestaansdatum van sy wynbedryf akkuraat kan aandui. Dit is te danke aan Jan van Riebeeck se dagboekinskrywing op 2 Februarie 1659 wat lui: “Heeden is Goode loff van die Caepse druyven d’eerste mael wijn geparst.” Groot Constantia is Suid-Afrika se oudste wynproduserende plaas. Dit is in 1685 deur die destydse goewerneur van die Kaap, Simon van der Stel, gestig is en word beskou as die historiese geboorteplek van die Suid-Afrikaanse wynbedryf.
Mnr. Jean Naudé, uitvoerende hoof van Groot Constantia, sê hierdie geleentheid het ’n betekenisvolle en waarlik onvergeetlike dag geword vir wynmakers en -liefhebbers. Dit vier die geboorte van die wynbedryf in Suid-Afrika, dit vra vir ’n seën op die nuwe oes, en bring hulde aan die voorlopers in dié bedryf. Om saam die geleentheid te vier, kan jy op 2 Februarie om 20:00 inskakel by www.sawineharvest.co.za om die geleentheid aanlyn te kyk.
Erkenning gegee
Tydens die geleentheid gee die wynbedryf erkenning aan individue vir hul besonderse bydrae in die volgende kategorieë: visionêre leierskap (1659-toekenning), diversiteit en transformasie, wynwaardering en wynbevordering, asook wingerdbou en wynskepping. Die seremonie word sedert 1974 aangebied om individue te vereer wat ’n groot bydrae tot die bedryf gelewer het. Vorige toekennings is onder andere gemaak aan die ontslape oudpres. Nelson Mandela en leiers is die wynbedryf soos me. Norma Ratcliffe, mnr. Beyers Truter en mnr. Charles Back.
“Ons is opgewonde oor die komende oesseisoen en sien daarna uit om dit saam met die res van die bedryf en wynliefhebbers oor die wêreld heen te vier,” sê Naudé. Die seën van die 2022-oes vind plaas in die wingerde van Groot Constantia deur ds. Desmond Meyer van die Verenigende Gereformeerde kerk Koelenhof.
Gesels saam
Wynliefhebbers word aangemoedig om deelnemende wynkelders in hul oesfeeste te ondersteun deur hul nuus en stories op sosiale media te versprei en ’n glas Suid-Afrikaanse wyn op Woensdag 2 Februarie 2022 te geniet. ’n Kis uitsoek- Suid-Afrikaanse wyne kan gewen word te danke aan wine.co.za wanneer jy plasings op sosiale media maak en die hutsmerk #sawineharvest2022 gebruik, sê Naudé.