
Neetlingshof se 2009 Short Story Collection The Owl Post Pinotage is deur die keurpaneel van die heel eerste 2011 Top 100 SA Wines-versameling as een van die land se top-100 wyne aangewys.
Die idee vir dié versameling is deur mnr. Robin von Holdt, ’n plaaslike ondernemer, bedink. Die versameling fokus op Suid-Afrika se wynuitnemendheid en dit skep ’n verwysingsraamwerk vir wynliefhebbers wêreldwyd.
Mnr. Tim Atkin, ’n Britse wynresensent, was die voorsitter van die beoordelingspaneel. Die paneel het verskeie kenners van ander lande asook plaaslike wynmakers en sommeliers ingesluit.
Trots
Mnr. De Wet Viljoen, die landgoed se wynmaker en ondervoorsitter van die Pinotage-vereniging, sê hulle is baie bly en trots op dié benoeming: “Ek voel besonder trots daarop dat Pinotage in die versameling opgeneem is.”
Die wingerde waaruit The Owl House gelewer word, kom uit ’n enkele droëlandwingerd wat met ’n noordwestelike aansig groei. Die wingerde is in 1997 aangeplant en lewer jaarliks slegs ses ton per hektaar. Die wingerde het nou volwassenheid bereik en die druiwe lewer ’n uitsonderlik gekonsentreerde smaak.
Die wyn is 14 maande lank verouder in vate gemaak van ’n samestelling van Hongaarse en Amerikaanse eikehout. “Ons het die sterk druiwesmaak versigtig met hout getem om balans en elegansie te skep,” vertel Viljoen.
Die naam
Die naam The Owl Post kom van die uilpale wat oral op dié Stellenbosse landgoed strategies in die wingerde opgerig is en deel van sy geïntegreerde plaagbestrydings-bestuursprogram uitmaak.
Die landgoed is lid van die Biodiversiteit-en-wyn-inisiatief (BWI) en het as deel van die bevordering van ’n volhoubaarheids- en bewaringsprogram inheemse plante weer op die landgoed laat groei. Gevolglik het rooikatte en ander diere weer na die omgewing teruggekeer.
Die wyne wat die lys gehaal het, sal in die eerste uitgawe van die Top 100 SA Wines-verbruikersgids te sien wees. Die 2009 The Owl Post Pinotage het ’n beperkte produksie en is teen R137 per bottel by uitgesoekte afsetpunte te koop.
20 April 2011