Nege individue wat oor die jare die wynbedryf op ‘n insiggewende wyse gevorm het, is tydens die 20ste Veritas-toekenningseremonie as wyn- en brandewyn-legendes vereer.
“Geslagte van mense het oor die jare hul lewens en hulpbronne aan die uitbou van die Suid-Afrikaanse wynbedryf gewy,” sê mnr. Duimpie Bayly, voorsitter van die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) wat die legende-idee geïnisieer het. “ ’n Paar individue se passie vir wyn en brandewyn het egter ‘n weergalose invloed op die plaaslike wynbedryf gehad, en hierdie uitsonderlike persoonlikhede het ware wynlegendes geword.”
Die voorreg om as ‘n legende erken te word gaan aan prominente afgetrede wynmakers, brandewynmeesters, wingerdboukundiges, bedryfsleiers, wynskrywers, wynambassadeurs en wynpersoonlikhede wat op grond van hul onblusbare geesdrif vir wyn en brandewyn bygedra het tot die skep van ‘n dinamiese bedryf.
Die 2010 lys van legends bestaan uit vooraanstaande wyn en brandewyne ikone, mnre. Jos le Roux, Andrew Marais, Buks Venter, Danie Grundling, dr. Johan Marais, Boet Jonker, Bertie van der Merwe, dr. Eben Archer en dr. Danie Joubert.
Mnr. Jos le Roux, ‘n brandewynmeester par excellence, het in 1972 by Distillers Korporasie aangesluit en later naam gemaak met sy benadering tot die hergebruik van brandewynvate – ‘n benadering wat die aandag van die wêreld op Suid-Afrika gevestig het. Sy werk ten opsigte van die distillering van enkelkolom distilate was ook onmisbaar vir die vooruitgaan van die bedryf. Hy sal onthou word vir sy bydrae tot die ontwikkeling van die uitsonderlike Flight of the Fish Eagle potketel-brandewyn en die Van Ryn brandewynreeks.
Mnr. Andrew Marais is vereer vir sy besonderse bydrae tot die uitbou van die wynkultuur veral onder die Afrikaanssprekende deel van die bevolking. Sy twee dekades as wynjoernalis, sowel as die tien jaar as hoof van Stellenbosch Boerewynmakery se skakelafdeling, het hom ‘n loopbaan besorg waarin wyn die hoofrol gespeel het. Sy liefde vir wyn, goeie kos en kultuur het hom geïnspireer om die befaamde Oude Libertas kompleks in Stellenbosch, met sy internasionaal bekende opelug amfiteater en restaurant, tot stand te bring.
Mnr. Buks Venter se mees blywende bydrae tot die brandewynbedryf was sy baanbrekerswerk oor die effek van hoë lugvogveroudering op brandewyn. Hy was ook verantwoordelik vir die ontwikkeling van twintig kommersiële brandewyne vir die KWV waarmee hulle talle internasionale trofeë ingepalm het.
Mnr. Danie Grundling, vyfde generasie eienaar van Grundheim Wyn en Brandewyn net buite Oudtshoorn en ‘n kampioendistilleerder, staan bekend as die “stooklegende van die Klein Karoo”. Hy is ook bekend vir die ruimhartige wyse waarop hy sy kennis en ervaring met die bedryf deel.
Dr. Johan Marais is een van Suid-Afrika se legendariese navorsers wie se waardevolle werk by die Landbounavorsingsraad (LNR) Nietvoorbij bygedra het tot die produksie van hoëkwaliteit Sauvignon Blanc, Chenin Blanc en Pinotage wyne. Oor ‘n periode van dertig jaar het hy op verskeie wynkomitees gedien, meer as 100 wetenskaplike artikels gepubliseer en ‘n bydrae gelewer by talle internasionale konferensies.
Mnr. Boet Jonker is die afgetrede besturende direkteur en uitvoerende voorsitter van die Mooiuitsig groep van Robertson wat wynplase, ‘n kelder, ‘n groothandel wynmaatskappy en drankwinkels insluit. Jonker het sedert 1947 op verskeie wynverwante komitees gedien.
As een van die land se grootste privaatwynboere, vorige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting en lid van die KWV se direksie vir baie jare, is mnr. Bertie van der Merwe se impak op die wyn- en brandewynbedryf blywend. Hy het ook op talle organisasies in die Worcester omgewing tot voordeel van die gemeenskap gedien. Sy entoesiasme en eindelose energie dien as inspirasie vir ander in die bedryf.
Dr. Eben Archer, ‘n bekende akademikus, wingerdboukundige en navorser verbonde aan die Nietvoorbij navorsingsinstituut en die Universiteit van Stellenbosch vir talle jare, het oor ‘n tydperk van byna veertig jaar die vorming van die land se wynbedryf insiggewend beïnvloed. Hy tree ook op as konsultant vir die wynbedryf in Suid-Afrika, Argentinië, Chili, Kalifornië en Frankryk. Voorts was hy betrokke by die wetenskaplike beplanning en ontwikkeling van meer as 40 Suid-Afrikaanse wynplase.
Dr. Danie Joubert het sy merk op die wynbedryf gemaak gedurende vier dekades by Elsenburg se wingerd- en wynbouafdelings. Sy aandeel in die skep van die keldertegnologie diplomakursus wat die volle spektrum van die vereiste opleiding van wynmakers en wingerdboukundiges dek, is onontbeerlik. Hy is ook vereer vir sy rol as dosent en sy navorsing oor gisrasse en wortelswamme.
Kyk na die foto in die aanhangsel hieronder.
28 Oktober 2010