
Die tyd is ryp vir ’n Suid-Afrikaanse wynbeleggingsmark, waar ’n koop-en-verkoop-scenario soortgelyk aan die een in Frankryk geld, glo mnr. Johann Krige, mede-eienaar van die wêreldbekende wynlandgoed Kanonkop buite Stellenbosch.
Krige stel die week 1 200 bottels van die 2008-oesjaar van die eksklusiewe Kanonkop Black Label Pinotage teen R1 100 per bottel aan die mark bekend. Met die eerste uitreiking drie jaar gelede is dié wyn (2006-oesjaar) binne etlike ure uitverkoop.
Krige verwag dat die 2008-oesjaar teen dieselfde spoed sal vlieg, want die wyn het in 2006 en 2007 plaaslike en internasionale bewonderaars gelok. Elke bottel word individueel genommer en dit spog met ’n hologram-stempel om die outentiekheid daarvan te waarborg.
Die wyn word van Pinotage-wingerd gemaak wat reeds in 1953 op Kanonkop geplant is. Hoewel die druiwe se gehalte uit die boonste rakke is, is die produksie baie beperk.
“As ek die wingerd wil hou, moet ek iets besonders daarvan maak,” meen Krige.
Hy sê een van sy doelwitte met dié wyn was ’n sekondêre mark vir Suid-Afrikaanse wyne. Die Black Label Pinotage is slegs beskikbaar by drie afsetpunte wat as wynmakelaars sal optree. Hulle sal in die toekoms potensiële kopers met moontlike verkopers in aanraking kan bring.
“Die plaaslike wynbedryf verdien ’n sekondêre mark, aangesien Suid-Afrikaanse wyne tans die beste in die bedryf se geskiedenis is,” aldus Krige.
“Hierdie wyne verdien ’n herverkoop- en beleggingswaarde. Deur beperkte volumes uitmuntende wyne op die mark te plaas, kan die Suid-Afrikaanse wynbedryf ’n sekondêre mark skep waar die aanvraag groter as die aanbod is. Dit kan lei tot ’n dinamiese verkoop en herverkoop van gesogte wyne en die daarstel van interessante beleggingsportefeuljes.”
Krige meen die Black Label Pinotage moet minstens 10 jaar in die bottel verouder voor dit “dividende gaan oplewer”, maar hy glo dit sal maklik 20 jaar tot 25 jaar kan verouder.
“Ek dink daar is ’n paar wyne in Suid-Afrika met beleggingswaarde. Die groot probleem is egter die verhandelbaarheid daarvan. Waar of deur wie koop jy tans sulke wyne? Ons probeer ’n geordende sekondêre platform skep waar die wyn verhandel kan word.”
Volgens hom sal die Black Label van volgende jaar van die hand gesit word terwyl dit nog in die vate lê. Die koper koop dus ’n produk wat hy eers ses maande tot ’n jaar later ontvang. Dit beteken die koper moet sterk vertroue in die wyn hê. Krige vergelyk dit met motorkoop: “Wanneer jy ’n Mercedes-Benz koop, verwag jy om ’n Mercedes-Benz te kry.”
Om ’n wyn met ’n herverkoopwaarde te maak, glo Krige die wyn moet ’n geskiedenis en bewese reputasie hê. Dit moet ook ’n geloofwaardige handelsmerk hê en met verloop van tyd konstant goed wees.
“ ’n (Suid-Afrikaanse) Beleggingsmark vir wyn sal erkenning gee aan die topgehalte wyne wat ons produseer, maar wat nog nie op internasionale vlak die regmatige erkenning kry nie.”
Die man wat tans die duurste wyn in Suid-Afrika verkoop, mnr. Jean Engelbrecht van die landgoed Rust en Vrede naby Stellenbosch, het op ’n onlangse mediafunksie gesê daar is beslis ’n sekondêre mark vir Suid-Afrikaanse wyne, maar die aanbod van wyne wat vir hierdie mark geskik is, is klein. Sy Rust en Vrede 1694 Classification verkoop tans teen R1 200 per bottel.
“Die Suid-Afrikaanse mark is nie so groot soos die ouwêreld wynlande nie, maar ek glo dit sal aftrek kry soos meer mense hieraan blootgestel word.”
Hy beskou ou Rubicons (Meerlust), Paul Sauers (Kanonkop) en selfs verouderde Rieslings (soos die 1974-Riesling wat hy al by Danie de Wet van De Wetshof gedrink het) as goeie wyne vir hierdie mark.
By die tuiste van Rubicon, Meerlust (ook naby Stellenbosch), sê mnr. Chris Williams, keldermeester, wynverbruikers se ondersteuning sal die lewensbloed van so ’n beleggingsmark wees.
“Daar is beslis plek vir so ’n mark, maar dit sal in ’n groot mate ontwikkel moet word.
Wynverbruikers sal ’n waardering moet aanleer vir wyne soos ons s’n wat met verloop van tyd verbeter. Om fantastiese wyne te maak verg baie meer tyd, beleggings en toewyding en is ’n langtermyn-proposisie.”
Hy meen die herverkoopwaarde van topgehalte Suid-Afrikaanse wyne sal, soos elders in die wêreld, in waarde styg soos verbruikers besef dit is die ekstra geld werd.
Black Label Pinotage sal vanaf 12 April by die volgende handelaars beskikbaar wees: Wade Bales Wine Society, Cybercellar en The Wine Cellar.
11 April 2011