Die afgelope twee seisoene het duidelik gewys wat in die toekoms van die Infruitec-Nietvoorbij-instituut se appelkoos- en pruimkweekprogram verwag kan word.
Infruitec-Nietvoorbij, die Landbounavorsingsraad se instituut vir Vrugte, Wingerd en Wyn, se pruimprogram word as een van die belangrikste ter wêreld geag, terwyl die appelkoosprogram een van die veelsydigste is. Albei programme is uniek ten opsigte van hul kweekdoelwitte (soos vereistes rondom lae verkoelingstemperature) en die ontwikkeling van produkte (soos pruime met geel skilletjies).
Appelkose
Tradisioneel het Suid-Afrikaanse appelkose 'n geel tot oranje kleur, met 'n besonderse aroma en smaak. Dit gaan egter in die toekoms verander met die ontwikkeling van 'n reeks appelkose met 'n rooi blos. Die koue-opbergingsvermoë van dié appelkose sal eerskomende seisoen getoets word. As die resultate bevredigend is, sal 'n aansoek om planttelersregte ingedien word.
Al hierdie seleksies het 'n goeie vruggrootte (55 mm tot 56 mm), 'n hoë suikerinhoud (meer as 15 brix), goeie eetgehalte en 'n rooi blos (meer as 40%). Hul oesopbrengste is ook goed.
Die unieke eienskappe van die nuwe appelkose word benadruk deur die feit dat ál die seleksies 'n rooi blos ontwikkel het, ten spyte daarvan dat Bien Donné nie 'n tradisionele appelkoosstreek is nie. Daarby het die drie kommersiële bloskultivars wat as die standaard be-skou word, Charisma, Palsteyn en Cape Bebeco, die afgelope twee seisoene nié 'n blos ontwikkel nie.
Goeie vordering is die afgelope twee seisoene gemaak om die gewilde kultivars Royal en Bulida met beter kultivars te vervang. Die inmaak- en droogvermoë van die seleksies sal ook in die komende seisoen getoets word.
Daar is 'n wêreldwye neiging na 'n gesonder leefstyl. Antosianiene, die samestellings verantwoordelik vir die rooi kleur in vrugte, is bekende anti-oksidante. Vrugte met rooi vleis is geneig om meer anti-oksidante te bevat. Die indruk bestaan dat sulke produkte meer waarde vir die bevordering van gesondheid het. Die vraag daarna groei dus wêreldwyd.
Pruime
Die pruimprogram het daarin geslaag om 'n rooivleis-pruimreeks (bloedpruime) te ontwikkel. Die koue-opbergingsvermoë van dié vrugte sal vanjaar geëvalueer word. Daarna sal daar moontlik om planttelersregte aansoek gedoen word.
Die gesondheidswaarde van dié reeks word tans deur die na-oes- en wyntegnologie-afdeling van die instituut ondersoek.
Die pruimprogram het ook reeds ander suksesse behaal:
Bogenoemde drie reeks sal bestaan uit pruime met 'n goeie vruggrootte (groter as AA), 'n hoë suikerinhoud, goeie produksie en goeie kleurontwikkeling. Elke reeks sal kultivars hê waarvan die vrugte voor dié van Pioneer geoes kan word, kultivars waarvan die vrugte reg deur die seisoen geoes kan word en kultivars wat tot ná Angeleno dra. Voor dié kultivars egter beskikbaar gestel kan word, moet geskikte kruisbestuiwers eers geëvalueer en aanbeveel word.
Die appelkoos- en pruimkweekprogram van Infruitec-Nietvoorbij sien uit na die beskikbaarstelling van hierdie nuwe en opwindende kultivars aan die Suid-Afrikaanse steenvrugbedryf. Dié unieke produkte illustreer die instituut se toewyding en bewys die programme is van die beste ter wêreld.
Me. Hannél Ham is aan die Infruitec-Nietvoorbij-instituut vir Vrugte, Wingerd en Wyn verbonde.
Landbouweekblad, 26 Oktober 2007