
’n Nuwe handelsmerkveldtog deur Aartappels Suid-Afrika (ASA), wat ontwerp is om nie net in te lig nie, maar ook verbruikers te vermaak en te beloon, is bekend gestel.
Die organisasie sê met behulp van die veldtog wil hulle Suid-Afrika in ’n ‘‘aartappelnasie’’ verander wat gesonde diëte handhaaf terwyl hulle aartappels deel maak van alledaagse, vetvrye maaltye.
Luidens ’n berig op Bizcommunity .com sluit die veldtog ’n aanlyn-kookkompetisie, kompetisies in winkels, resepte, speletjies en besoeke van Koning Zamban – die Koning van die Aartappelnasie – in.
Mnr. Etienne Booyens, bemarkingsbestuurder by ASA, sê die veldtog wil nie net volwassenes en ouers aanmoedig om gesonde maaltye voor te berei nie, maar ook studente wat op soek is na gebalanseerde maaltye wat maklik is om voor te berei en bekostigbaar is.
Aartappel-ambassadeur
Studente sal betrek word deur hulle aan te moedig om hul kameras te gebruik om hulself af te neem terwyl hulle disse met aartappels aanmekaar slaan.
Die video’s kan dan op ASA se webtuiste opgelaai word, en die studente se vriende sal aangemoedig word om vir hulle te stem. Die organisasie sal R20 000 tot die wenner se studiegeld bydra, terwyl die student die land se eerste aartappel-ambassadeur sal word.
Dieselfde bedrag geld is op die spel vir Suid-Afrika se amptelike Aartappelnasie-hoofkokkompetsie. Dié kompetsie sal met behulp van Shoprite-winkels aangebied word.
Booyens sê baie mense in Suid-Afrika moet ingelig word oor die waarde van aartappels as ’n bron van komplekse koolhidrate en ’n reeks minerale, terwyl dit laag in natrium is. ‘‘So baie mense het aartappels uit hul dieet gesny omdat hulle dink dit maak vet, maar aartappels wat in die skil gekook word, is eintlik vetvry.”
Meer inligting is by www.potatonation.co.za beskikbaar.
Bron: Bizcommunity