
‘n Nuwe “groen” insekdoder vir appels, wat peste soos die appel-kodlingmot kan bestry, is onlangs in Suid-Afrika vrygestel, sê DuPont Suid-Afrika (SA).
Mnr. Marius Boshoff, nasionale bestuurder vir gewasbeskerming, sê dié middel, onder die Altacore-handelsmerk met die aktiewe bestandeel Rynaxypyr, kan appelboere steun wat die streng voorwaardes rakende uitvoere aangaan.
Volgens Boshoff is een van die grootste uitdagings van plaaslike appelboere om op internasionale markte mededingend te wees. “Baie streng maatreëls is in plek as ‘n boer sy appels na veral die Europese Unie (EU) wil uitvoer, maar met dié produk kan hulle mededingendheid verbeter.”
Die appelmot
Boshoff sê die appel-kodlingmot veroorsaak vir boere baie uitdagings, veral aangesien slegs ‘n kwart van die chemikalieë wat die afgelope 20 jaar vir gebruik op appels ontwikkel is, nog gebruik mag word.
Die kodlingmot lê sy eiers op die vrugte, en sodra die klein ruspes uitbroei dring hulle die vrugte binne, wat ‘n boer ‘n groot deel van sy oes kan kos. “Tot drie generasies van die motte kan gedurende een somerseisoen voorkom,” vertel Boshoff.
Die middel is ook geregistreer vir gebruik op sitrus, aartappels, tamaties en pere. Die produk is in 49 lande geregistreer, waarvan Suid-Afrika nommer 48 is.
Die appelboer in SA
Boshoff beskryf Suid-Afrikaanse appelboere as hoogs gesofistikeerd, aangesien hulle verskeie faktore in ag moet neem wanneer hulle beplaning doen en terwyl hulle oes aan die bome is. “Suid-Afrikaanse appelboere wat hul produkte wil uitvoer word aan derde party-oudits blootgestel aangesien die produksie van vrugte soos appels, vir veral die EU, aan baie streng omgewingsbewaringsmaatreëls moet voldoen.”
Hy sê die produk word reeds deur ‘n hele paar boere gebruik. “Hoewel die prys op ‘n gepaste vlak vir Suid-Afrika vasgestel is, is die gebruik daarvan nie goedkoop nie.”
Volgens Boshoff gaan daar binnekort ‘n opname gedoen word om te bepaal wat boere wat dit gebruik se ondervindings is. Met dié opname wil die maatskappy ook bepaal hoekom ander boere nie die produk tans gebruik nie.
6 September 2010