Bosman Family Vineyards het op 1 November vanjaar hul kelderdeure na 'n wynmaak-stilte van 51 jaar weer oopgeswaai. Wyne word nou weer in dié historiese kelder, wat 250 jaar terugdateer, gemaak om die nalatenskap vir die agtste geslag van die familie op Lelienfontein naby Wellington te laat voortleef.
Na 'n trotse geskiedenis van wynmaak vroeg in die 1900's het die Bosman-familie al meer begin fokus op wingerdstokkwekery. Die laaste wyn is in 1956 op Lelienfontein gemaak. In 2006, vyftig jaar later, het restourasie aan die bestaande historiese kelder afgeskop sodat daar weer wyn geproduseer kan word uit die druiwe van die wingerde geleë teen die hange van die Groenberg.
Die "nuwe" kelder behou die bestaande 18de eeuse bouwerk in styl. Volgens die familie was respek die wagwoord tydens restourasie en bouwerk. Alle vroeë gebou-elemente soos kraalmure, kuipe, dakstrukture en ruwe mure is eerbiedig en op innoverende wyses in die ontwerp inkorporeer. Die ou parskelder is byvoorbeeld nou 'n verkoopslokaal en die kuipkamer sal voortaan as vinoteek dien.
Datums van die 1800's wat op houtbalke met bordkryt geskryf is, het behoue gebly. Dié het elke jaar se oes in leggers aangedui - ook die rekordoes van 1921. In die vinoteek is alle ou wynmaaktoerusting wat op die plaas gebruik is, uitgestal. Die gewels wys ook duidelik hoe die dakstrukture oor tyd verander het vanaf strooi na riet na sink.
"Wat die keldergebou onderskei van ander is die noue band met ons verlede, die besondere aandag aan detail en die stylvolle argitektuur," vertel Petrus Bosman trots.
Vanjaar is die eerste wyn in die nuwe kelder gemaak - kompleks, lang en elegante wyne soos Petrus dit wou hê. "Dít het ons reggekry deur gebruik te maak van gebalanseerde wingerd, innoverende wynmaaktegnieke en 'n respek vir tradisie."
7 November 2007