Die Suid-Afrikaanse tafeldruifbedryf se bedryfsliggaam, SA Tafeldruiwe (SAT), wil nuwe wetlike maatreëls daar laat stel. SA Tafeldruifindustrie (SATI) het namens dié instansie 'n versoek aan die Minister van Landbou gerig vir die toepassing van nuwe maatreëls vir tafeldruiwe wat uitgevoer word.
Die voorgestelde maatreëls is in ooreenstemming met die wet vir die bemarking van landbouprodukte van 1996 en sal vir vier jaar geldig wees. Die huidige maatreëls is op 12 November 2004 daargestel en verval op 30 September 2008.
SATI meen dat die voorgestelde maatreëls uitvoerders sal verplig om opgawes op individuele vlak in te dien sodat mark- en produksie-inligting vir die hele land verwerk en dan versprei kan word. Verpligte registrasie sal ook verseker dat die maatreëls rakende rekordhouding en opgawes, asook die betaling van wetlike heffings, nagekom word.
Die voorgestelde heffing vir tafeldruiwe wat vir uitvoer bestem is, is 8 sent per kilogram - op van 5 sent per kilogram. Die fondse sal gebruik word om kwessies rakende marktoegang, inligting en kommunikasie, navorsing en tegnologiese en tegniese oordrag, transformasie en opleiding te finansier.
Dié maatreëls sal ook, volgens SATI, nie voedselsekerheid, regverdige arbeidspraktyke of werkgeleenthede ongunstig sal raak nie. Dié organisasie meen dat die maatreëls wel kompetisie in die tafeldruifbedryf sal verbeter en die algemene kapasiteit van dié bedryf sal steun
Belanghebbendes in die tafeldruifbedryf kan kommentaar aan die Landboubemarkingsraad (LBR) rig. Kommentaar moet die LBR, op skrif, voor of op 19 September 2008 bereik. Skakel 012 341 1115 vir meer inligting.
28 Augustus 2008