
Ná agt jaar van samesprekings is die Cape Vintners Classifications (CVC), ’n stelsel wat superpremium- en premiumwyne in Suid-Afrika en terselfdertyd die beeld van die plaaslike wynbedryf gaan bevorder, in Kaapstad bekend gestel. Dit is soortgelyk aan die Duitse VPD-stelsel.
Volgens dr. Johan Rupert, sakeman en eienaar van onder meer L’Ormarins-wynlandgoed, is daar vier pilare waaraan lede sal moet voldoen.
Die landgoedere sal in private besit, soos families, moet wees. Dit sal ook minstens 20 ha wingerd beslaan of 100 t druiwe moet pars. Die plase moet uitstekende, terreinspesifieke wyn op ‘n omgewingsbewuste manier maak en dit moet goeie arbeidsverhoudinge handhaaf.
“Ons moet nou maniere vind om saam te werk, beter wyn te maak en dit ook beter te verkoop, ” het Rupert tydens die bekendstelling by Ellerman House gesê.
Die CVC sal 'n gaping vul wat agt jaar gelede ontstaan het toe die Vereniging vir Kaapse Landgoedere (VKL) tot niet gegaan het. “Na die verdwyning en die veranderinge by die KWV was daar nog nie weer werklik 'n verenigde organisasie vir landgoed-eienaars nie en wynboere as entiteite en individue nie,” meen Rupert.
Nuwe strukture nodig
Jean Engelbrecht, eienaar van die wynlandgoed Rust en Vrede, is deur Rupert voorgestel as die eerste voorsitter vir die CVC. “Die afgelope dekades het die wêreld en die manier waarop ons sake doen, merkbaar verander, ook in die wynbedryf. Ons het 'n nuwe manier gesoek om die Suid-Afrikaanse wynbedryf vorentoe toe neem. Die strukture wat ons in plek gehad het, het nie meer aan ons as wynprodusente se behoeftes voldoen nie,” het hy gesê.
Ook mnr. Duimpie Bayly deel die sentiment. “Die skip seil nie meer nie. Dit is nou tyd vir ons om 'n nuwe skip te bou en dit vorentoe te neem. Ons sal die dwarslat moet verhoog, want dit is waar die enigste geleenthede vir ons lê. Dit wat onder die dwarslat gebeur is vir grootmaatwyn…Ons moet ook die verlede vergeet en saamwerk om eenheid in die bedryf te bewerkstellig. Ons wil wyn van beter gehalte maak, die pryse verhoog en beter bemark. Almal sal voordeel trek,” sê Bayly.
“Kaapse wyn is uniek en wingerdbouers dra al vir 3,5 eeue die kennis oor grond en klimaat van een generasie na 'n ander oor. Die CVC sal gestalte gee aan Suid-Afrika se wynmaakgeskiedenis.”
Akkreditasie vir die stelsel sal op 2 Januarie volgende jaar begin. Daar is glo reeds sowat 30 landgoedere wat belang stel. Dit sal ongeveer R16000 per jaar kos. 'n Internasionale “roadshow” in sleutelmarkte, met media en meningsvormers en klantegroepe, is binnekort op die tafel.
Mnr. Rico Basson, hoof uitvoerende beampte van VinPro, het die inisiatief verwelkom. “Dit formaliseer die premie- en superpremie-komponent van die bedryf. Dis 'n baie belangrike deel vir ons relatiewe klein bedryf. Hierdie poging moes al lankal tot stand gekom het.”
Ook die nuwe hoof van die generiese bemarkingsliggaam Wosa, me. Siobhan Thompson, voel dit voeg net nog 'n lagie tot die boodskap wat hulle probeer uitstuur. “Dit ding met niemand mee nie, maar dwing ook aspekte van regverdige handel af.”