Dít is die raad van Amerikaanse navorsers aan die Cornell-universiteit in ’n artikel in die American Journal of Enology and Viticulture. Daar is nog geen teenvoeter gevind vir hierdie wingerdsiekte nie, wat onder meer opbrengs verminder en ’n impak op druifgehalte het.
Rolblaarsiekte word veroorsaak deur ’n virus wat deur die witluis oorgedra word. Wingerdboere het dit tot dusver probeer bekamp met gifstowwe en deur enkele besmette stokke te verwyder en met gesondes te vervang.
Die gaping wat die verwydering van ekstra wingerdstokke laat, is genoeg om witluise se beweging en die daaropvolgende oordrag van die virus na ander stokke te beperk, sê die navorsers in ’n verklaring.