'n Nuwe stamroes by koring, wat die potensiaal het om 25 % van die wêreld se koringoes uit te wis, kry dringende aandag van navorsers.
Die roes Ug99, wat in Oos-Afrika ontstaan het, stel 'n weerstandsgeen in gewilde koringkultivars buite aksie. Dit is reeds buite Afrika deur navorsers van die Global Rust Initiative (GRI) en die landbounavorsingsdiens van die Amerikaanse departement van landbou in Jemen in die Arabiese skiereiland aangetref. Aanduidings bestaan dat die roes ook na die Soedan versprei het. Voor hierdie ontdekking was dit tot Uganda, Kenia en Ethiopië beperk.
Die lande wat in die voorspelde pad van Ug99 tussen Oos-Afrika en Jemen lê, produseer meer as 65 miljoen ha koring per jaar en hierdie produksie word bedreig.
Dr. Vicki Tolmay van die Instituut vir Kleingraangewasse (KGI) op Bethlehem sê Suid-Afrikaanse navorsers is vertroud met die probleem. Dit kry aandag by die KGI, die Universiteit van die Vrystaat (UV) en saadmaatskappye.
Suid-Afrika is deel van die GRI. Suid-Afrikaanse kiemplasma is in 2006 in Kenia geplant sodat dit teen Ug99 getoets kan word. Kenners van die KGI en UV het die Keniaanse navorsingsinstelling in Njoro in September 2006 besoek.
Die gevaar van die nuwe roes kan gemeet word aan die laaste groot epidemie van stamroes wat in die vroeë jare vyftig meer as 40 % van die Amerikaanse vasteland se koringoes vernietig het. Daaruit het internasionale samewerking in die bestryding van siektes ontstaan. Die alliansie van navorsers het kultivars ontwikkel wat langer as vier dekades die aanslag van stamroes weerstaan het.
In 1999 is 'n nuwe stam van stamroes in Uganda en Kenia ontdek wat die potensiaal het om voorheen roesbestande kultivars te vernietig.
Sowat 18 maande gelede is die moontlike baan van die swam, waarvan die spore ver deur die wind versprei kan word, met die hulp van kenners van geografie vasgestel. Volgens die windmodel kan die swamme, as hulle van Oos-Afrika na die Arabiese skiereiland versprei, maklik verder versprei tot by die groot koringproduserende gebiede van Noord-Afrika, die Midde-Ooste, Pakistan en Indië.
Bewys bestaan reeds dat dit moontlik is, want in die laat jare tagtig het geelroes ook in Oos-Afrika ontstaan. Nadat dit in Jemen opgespoor is, het dit net vier jaar geduur om Suid-Asië te bereik. Op pad daarheen het dit reuse-koringverliese van meer as 'n miljard dollar veroorsaak in Egipte, Sirië, Turkye, Iran, Irak, Afganistan en Pakistan.
Die Ug99-stamroes hou 'n groter risiko vir die wêreld se koringproduksie in met moontlike jaarlikse verliese van meer as 3 miljard dollar net in Afrika, die Midde-Ooste en die suidelike dele van Asië.
Die voorsitter van Pakistan se landbounavorsingsraad, mnr. M.E. Tusneem, sê as die bedreiging van die stamroes nie beheer word nie, gaan dit 'n reuse-invloed op voedselsekerheid hê, veral omdat die wêreld se koringvoorraad die laagste nog is.
'n Amerikaanse wetenskaplike, dr. Norman Borlaug, sê navorsing wat die GRI die afgelope twee jaar in Kenia en Ethiopië gedoen het, wys dat die meeste koringkultivars vatbaar is vir Ug99. Dit is 'n baie groter probleem as die koringproduksie in ontwikkelende lande. "Die roes-patogeen het nie 'n paspoort nodig om grense oor te steek nie. Vroeër of later sal Ug99 dwarsdeur die wêreld, ook in Noord- en Suid-Amerika, Europa en Australië aangetref word."
GRI-navorsers het reeds belowende eksperimentele koringkultivars gevind met weerstand teen Ug99, maar dit kos baie tyd en werk om nuwe roesbestande kultivars op boere se lande te kry.
Borlaug sê: "As ons nie daarin slaag om Ug99 in toom te hou nie, kan dit rampspoedig vir miljoene boere en verbruikers wees. Ons weet wat om te doen en hoe om dit te doen. Al wat nodig is, is geld, wetenskaplike samewerking en die politieke wil om hierdie bedreiging van voedselsekerheid die hoof te bied."
Landbouweekblad, 23 Maart 2007