
Die saadmaatskappy Starke Ayres is met goeie reg opgewonde oor sy splintenuwe slaaivariëteit met die naam Red Ou.
Volgens mnr. Talha Loonat, 'n senior-produkbestuurder vir spinasie, kopkool, slaaie, broccoli en blomkool van dié maatskappy, getuig die groeiende saadverkope van blaargewasse van groenteprodusente se gesonde belangstelling daarin.
Slaaiaanplantings, veral dié van kopslaaie, het die afgelope vyf jaar stewig gegroei omdat verbruikers al hoe meer na gesonder eetgewoontes streef. Na verwagting sal die saadverkope van slaaisoorte nóg verder toeneem.
Red Ou is 'n eikeblaarvormige spesialiteitslaai wat regdeur die jaar verbou kan word. Die groot rede vir die opgewondenheid is die feit dat rooi slaaie gewoonlik stadiger groei as hulle groen eweknieë, maar hierdie nuweling blyk beslis die uitsondering te wees.
Red Ou groei vinnig en dit kan van 30 tot 50 dae na uitplant geoes word afhangende van die klimaatstreek en die seisoen. Dit vaar besonder goed onder uiters hoë temperature en is geskik vir verbouing op oop lande óf in hidroponiese stelsels.
Danksy Red Ou se groot blaarvolume is dit veral gewild by vooraf-verpakkers omdat dit die sakke sommer gou-gou vul.
Red Ou volg kort op die hakke van dié maatskappy se ‘Multileaf’-reeks van sewe sierslaaie wat verlede jaar bekendgestel is. Dié reeks is uniek vanweë die gehalte, smaak, houvermoë, aanpasbaarheid en siekteweerstand, sê Loonat.