
‘n Nuwe F1 pampoen variëteit, die Windsor, wat 15 tot 18kg witpampoene kan voorsien, is geregistreer, sê K2 Saad.
Luidens ‘n verklaring is dié pampoene geskik vir subtropiese kweektoestande. Die registrasie volg op ‘n proses van sowat drie jaar ná die Pampoene vir Afrika-teelprogram in 2009 by die Delphina proefplaas buite Oudtshoorn begin is. Die projek is in samewerking met K2 se Nederlandse filial, Bakker Brother, aangepak.
Mnr. Pierre Maritz, navorsingsbestuurder vir K2, sê dié proef is begin met die uitdagings vir pampoen-verbouing en weerstand teen siektes in die subtropiese dele van Afrika in gedagte. “Aan my is gesê dat indien jy ‘n 10 ton trok vol pampoene op die ewenaar sou kon neersit, dit binne minute deur honger verbruikers opgeraap sou word. Vir honger Afrika was pampoenverbouing in die Subtrope tot dusver buite bereik, weens die uiterste siektedruk toestande.”
Eienskappe van die variëteit
Volgens Maritz was die maatskappy se doel om ‘n pampoen variëteit, wat al die regte eienskappe het, te ontwikkel. “K2 Saad Bemarking met sy hoofkantoor op Oudtshoorn, het egter die uitdaging gepak om die DNA-samestelling van pampoene te reskonstrueer, sodat optimale vleiswanddikte en die langste moontlike raklewe ‘n werklikheid word vir die behoefte aan gesonde kos vir Afrika.”
Mnr. Johan Nel, ‘n boer van die plaas Welkom naby Calitzdorp in die Klein Karoo, het as deel van die projek die eerste kommersiële saad aangeplant en groot sukses behaal.
Maritz sê die maatskappy doen tans verdere navorsing om DNA-merkers, wat optimale siekteweerstand in al die pampoen families sal vir seker, te identifiseer. Dié navorsing word in samewerking met Bio Diagnostics in Amerika gedoen.
21 April 2012