
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf se hulp aan van sy vernaamste mededingers – Chili en Argentinië – om geïntegreerde boerderypraktyke te ontwikkel, sal nie tot die bedryf se nadeel wees nie.
Die plaaslike wynbedryf is ‘n wêreldleier op die gebied van biodiversiteits- en omgewingsvriendelike wynproduksie en pluk ná vyf jaar se harde werk die vrugte daarvan.
Me. Inge Kotzé van die Biodiversiteit- en Wyninisiatief (BWI) het op ‘n inligtingsdag op Citrusdal die rooibosbedryf touwys gemaak oor die omgewings- en bemarkingswaarde van geïntegreerde produksiepraktyke. Dit is egter nie net die rooibosbedryf wat die wynbedryf nadoen nie, maar ook mededingende wynproduserende lande soos Chili, Argentinië en Kalifornië.
Die wynbedryf se voetspoor is sowat 102 000 ha groot, maar 130 000 ha is eenkant gesit vir bewaringsdoeleindes.
Nuwe ‘groen’ wynseël
Die nuwe Suid-Afrikaanse “groen” wynseël is baie goed ontvang in van Engeland tot Skandinawië. Dié seël verseker vebruikers van die integriteit van die wyn en die volhoubaarheid van produksiemetodes. Sowat 98% van die 4000 wynprodusente voldoen aan hierdie riglyne.
Suid-Afrika is deur die omgewingsorganisasie WWF se kantore in Suid-Amerika genader om die lande te help om ‘n soortgelyke inisiatief op die been te bring. Volgens Kotzé (die BWI val onder WWF) het hulle die generiese bemarkingsorganisasie Wosa toestemming gevra voor hulle ‘n helpende hand uitgesteek het, want dié stap kon die handelsmerkpotensiaal van SA wyne ondermyn.
“Suid-Afrika moet dinge drie keer harder sê as Chili en Argentinië om hul posisionering van handelsmerk daar buite te kry. Een, verenigde stem het baie meer krag in ‘n internasionale mark,” sê Kotzé oor Wosa se besluit om toestemming te verleen.
18 November 2010