'n Leemte in die mark vir organies
gekweekte sampioene het 'n sampioenkweker laat besluit om van knopiesampioene na
oestersampioene oor te skakel. Nou het hy 'n organies geproduseerde produk met
'n lang raklewe wat ook vir die uitvoermark geskik is.
Oestersampioene wen vinnig veld, veral omdat dit organies geproduseer word. Hulle het dié geleentheid raakgesien, navorsing daaroor begin doen en kweek dit nou heeltyds, sê mnr. Michael Gutter van die plaas Geluksfontein, Theunissen.
Mnr. Gutter sê hulle het 18 jaar lank knopiesampioene gekweek. Agt maande gelede het hulle 'n leemte in die mark vir organies geproduseerde sampioene gesien en toe met toetse met oestersampioene begin. Dit was 'n geslaagde oorskakeling, want nou het hulle 'n gesogte produk.
In dié tyd is die boerdery gesertifiseer vir organiese produksie. Dit beteken geen chemiese middels word gebruik nie. Die strooi wat as groeimedium gebruik word, is organies gekweek en word met stoom gesteriliseer. Dit bevat ook geen hoendermis nie.
Buiten die organiese produksie was probleme om veen, die groeimedium vir knopiesampioene, te kry, ook 'n groot rede waarom besluit is om oestersampioene te begin kweek. Vir die oestersampioene word koringstrooi gebruik. Dit word organies gekweek en mag nie in aanraking gekom het met onkruid- en insekdoders nie. Die strooi word van boere in die omgewing gekry en voor gebruik gepasteuriseer.
Die groeimedium word drie keer gebruik voordat dit vervang moet word. Toetse word gedoen om dié strooi dan as misstof of veevoer te gebruik. Voorlopige toetse dui daarop dat die mesilium waarmee die strooi gemeng word wat die toestande skep vir die sampioene om in te groei, 'n natuurlike aalwurmdoder en ryk aan stikstof is.
Die mesilium is nodig omdat dit sorg dat die toestande soos die CO2- en suurstofinhoud van die groeimedium reg is. Daarby moet die humiditeit, lugvloei, temperatuur en lig reg wees.
Die mikroklimaat waarin die sampioene groei, word daagliks gemonitor. Met die hulp van 'n verkoelingstelsel, stoomketel en waaier word dit gereguleer. Die mikroklimaat word na gelang van die sampioene se groeistadium aangepas. Byvoorbeeld, hoe groter hulle groei, hoe laer moet die humiditeit wees.
Nadat die spore geplant is, groei die sampioene sowat 20 dae lank. Daarna verlaag die CO2-inhoud en styg die stikstofinhoud van die groeimedium om die sampioene te laat vorm. Hulle kan daarna binne tien dae gepluk word. Een "stoel" kan drie keer gepluk word voordat dit vervang moet word.
Mnr. Gutter sê hul produk het 'n heelwat langer rakleeftyd as die gewone sampioene. Die hoofrede is dat die oestersampioene in kartonhouers verpak word. Plastiek-en-polistireenhouers laat vog opbou en verkort die produk se raklewe.
Nadat die sampioene gepluk is, word dit tot 5 °C verkoel, verpak, weer verkoel en dan met 'n koeltrok vervoer. Mnr. Gutter doen die bemarking self.
Siektes is nie 'n probleem nie. Die hoë vlak van higiëne en die feit dat die strooi vooraf gesteriliseer word, voorkom moontlike siektes.
Met die skryf van dié artikel is 3,5 ton oestersampioene elke week gelewer. Die mikpunt is 6 ton per week. Omdat dit 'n organies geproduseerde produk met 'n lang raklewe is, lyk die moontlikheid van uitvoer belowend. Uitvoer na Amerika, Europa en Japan word onder meer ondersoek.
22 November 2002